SuperSport Schools Plus

Middies net-net baas teen Rhinos

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-04-13 Tags: , , , , , , ,

Old School
FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Dit het soos verwag ’n titaniese stryd afgegee in die herontmoeting tussen Hoërskool Middelburg en Hoërskool Nelspruit.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Uiteindelik het Middelburg met ‘n enkele punt die bordjies verhang teen die span van Mbombela, deur Saterdag se naelbytstryd in die NWU Sportreeks met 27–26 te wen.

Die Middies het reeds teen rustyd ’n voorsprong van 10 punte geniet, maar dit het  eenvoudig vir die Rhinos aangespoor om met ‘n verbete terugvegpoging te kom na die omdraaislag.

Die Nellies se afrigtingspan het besluit om sommige van hul eerstekeuse-spelers te rus weens ’n strawwe wedstrydprogram wat oor die volgende twee weke wag. Dit neem egter niks weg van die Middies se oorwinning nie.

Die skote het geklap onder die voorspelers, met Nellies se Werno Heyns wat die pas vir sy agttal aangegee het. Die veelsydige voorspeler was regoor die veld teenwoordig en is vir sy puik spel met twee pragdrieë beloon.

Die Middies-pak het self met oorgawe ingeklim om bruikbare voorvoet-besit te bewerkstellig. Die agttal, onder leiding van die staatmaker-haker, Roux Grobler, was verantwoordelik vir ál vier die Middies se drieë.

Die momentum het egter begin swaai toe die Rhinos se agterlyn aan die gang gekom het in die tweede skof. Linkervleuel, Tinyiko Silubane, het ’n merkbare verskil gemaak en sy drie het die vonk verskaf vir die terugvegpoging.

Hoërskool Eldoraigne het ‘n allemintige 35 punte in die tweede helfte aangeteken, maar dit was nie genoeg om ‘n nederlaag van 35-42 teen Hoërskool Oos-Moot af te weer nie.

Die Oosies het teen rustyd ’n skynbaar onaantasbare voorsprong van 21 punte geniet, met hul gevaarlike pak wat die dryfveer was agter ’n aanslag wat die Drake deurlopend onder druk geplaas het. Loskakel, Dewron Aford, wat bekend is vir sy aanvallende benadering tot die spel, het die geleentheid aangegryp om sy agterlyn op dreef te kry en het self ook agter die Eldos se doellyn gaan kuier.

Die Drake se buitesenter, Hanno Jacobs, is vinnig besig om vanjaar in ‘n driedrukmasjien vir sy span te ontpop en het Saterdag nóg twee keer oor die doellyn geglip om sy totaal in die Sportreeks tot sewe drieë op te stoot.

Hoërskool Ben Vorster het met 31–19 geseëvier in die eerste van minstens twee kragmetings vanjaar met Hoërskool Piet Retief.

Binnesenter, Gihan Hendricks, wat as Speler van die Week aangewys is tydens die onlangse Ben Vorster Rugbyweek, het weer sy merk gemaak vir die Buffels met dodelike aanvalslyne. Hy het hierdeur vir linkervleuel, Lethabo Sejake, die Buffels se dubbele driedrukker, goed bygestaan. Sejake was byna onkeerbaar op die aanval en het die lewe vir die Piet Retief-verdedigers uiters moeilik gemaak.

Piet Retief se vleuel, Vuyani Tshabalala, het self imponeer met ’n paar skitterlopies van sy eie en ‘n tweekuns aan drieë behaal om sy span in die wedloop te probeer hou.

Puntemakers:

Hoërskool Middelburg 27 (17) – Drieë: Jabu Mathebula, CW Hanekom, Dewald du Toit, Roux Grobler. Doelskoppe: Matthew Abbey (2). Strafdoel: Buhle Mphalaza. Hoërskool Nelspruit 26 (7) – Drieë: Werno Heyns (2), Liam Pringle, Tinyiko Silubane. Doelskoppe: Pringle (3).

Oos- Moot 42 (21) – Drieë: Jeandré Venter, Stian de Vente, Riyaan Wilson, Jandré de Beer, Dewran Aford, Drew Williams. Doelskoppe: Venter (6). Eldoraigne 35 (0) – Drieë: Hanno Jacobs (2), Tristan Lee, Wian White, Esdee Kotze. Doelskoppe: Damian Elferink (5)

Ben Vorster 31 (24) – Drieë: Lethabo Sejake (2), Joshua van der Mescht, Miguel Makhubupetsi. Doelskoppe: Shelton-Ray Primo (4). Strafdoel: Primo. Hoërskool Piet Retief 19 (7) – Drieë: Vuyani Tshabalala (2), Fiso Methula. Doelskop: Owethu Shabalala.

Ander spanne:

o.16: Hoërskool Middelburg 27, Ben Vorster 12; EG Jansen 33, Piet Retief 33; Menlopark 29, Waterkloof 24; Transvali 41, HTS Middelburg 19; Kempton Park 34, Nelspruit 20; Oos-Moot 38, Eldoraigne 6.

o.15: Waterkloof 17, Menlopark 10, Transvalia 18, Nelspruit 12; Oos-Moot 45, Eldoraigne 7; EG Jansen 38, Hoërskool Middelburg 5; Ben Vorster 39, Piet Retief 21; Kempton Park 25, HTS Middelburg 18.

o.14: Hoërskool Middelburg 24, Waterkloof 17; EG Jansen 18, Menlopark 15; Kempton Park 32, HTS Middelburg 0; Ben Vorster 26, Piet Retief 5; Nelspruit 31, Transvalia 14; Oos-Moot 22, Eldoraigne 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.