Middelburg oorheers, maar Valia-eerstes seëvier
Hoërskool Middelburg se netbalspanne het Saterdag hul stempel afgedruk met oorweldigende vertonings teen Transvalia, maar Valia het koning gekraai in die eerstespan-stryd.
Met nege uit 10 oorwinnings, oor ál die ouderdomsgroepe heen, het Middelburg sy reputasie as ‘n magtige netbalskool gestand gedoen. Tog was dit Transvalia se eerste span wat op die einde van die dag die laaste sê gehad het met ‘n indrukwekkende oorwinning van 28-17.
Die Valia-eerstes het met dié vertoning benadruk dat hulle vanjaar gedugte teenstand gaan bied. Anzel Visage het uitgeblink op die verdediging met talle onderskeppings en ‘n kragtige kombinasie gevorm met Milan Strydom, wat die verdedigende sirkel uitstekend beheer het.
Aanvallend het Mieke Grobler ‘n kernrol gespeel deur die bal doeltreffend deur te bring, terwyl Abigail Coetzee se blitsige bewegings op die baan die aanval verder versterk het. Die doelskieters, Carla van Schalkwyk en Micah Labuschagne, het hul taktiese vernuf tentoongestel deur die verdedigende spanne te flous met hul samespel, wat oor jare opgebou is en steeds sterker word.
Middelburg het in ál die ander wedstryde die botoon gevoer en bewys gelewer daarvan dat hul netbalprogram uiters effektief is.
Al die uitslae:
o.19A: Middelburg 17, Transvalia 28.
o.19B: Middelburg 39, Transvalia 6.
o.17A: Middelburg 23, Transvalia 8.
o.17B Middelburg 13, Transvalia 11
o.16A: Middelburg 29, Transvalia 10.
o.16B: Middelburg 41, Transvalia 4.
o.15A: Middelburg 48, Transvalia 6.
o.15B: Middelburg 30, Transvalia 9.
o.14A: Middelburg 28, Transvalia 10.
o.14B: Middelburg 11, Transvalia 10.
- Parkies se seisoen van glorie - 2025-10-06
- Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses - 2025-09-30
- Top-4 Rusties leef hul droom - 2025-09-29