Maak-of-breek stryd in Boksburg vir Jansies en Rhinos

Eerskomende naweek se NWU Sportreeks-stryd in Boksburg tussen die gashere, Hoërskool Dr EG Jansen, en Hoërskool Nelspruit is vir albei spanne van kritieke belang.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Jansies en Rhinos, elk met slegs een oorwinning in vriendskaplike wedstryde gedurende hul laaste twee uitstappies, is steeds segeloos in vanjaar se Sportreeks.
Albei het teen ‘n duidelik omgekrapte HTS Middelburg vasgeval, dus sal Saterdag se kragmeting bepaal wie tweede in dié drie spanne se groep eindig.
Die Arende, wat verlede naweek met 45-20 koning gekraai het oor Ligbron Akademie, lyk asof hulle hul voete begin vind. Die span van Boksburg se breierskorps het reeds vir daardie wedstryd ‘n aantal veranderinge aangebring aan die span wat teen die Rooi Bulle verloor het, waarvan die beduidendste waarskynlik Deshean Pietersen se skuif vanaf heelagter na losskakel was.
Zulu Otlatleng vervang Pietersen op heelagter, met die blitsige Jordan van der Weshuizen wat stelling in die nr. 11-trui inneem.
Die Nellies stoot self ‘n span wat effens anders daar uitsien in die veld teen die Boksburgers. Voorlangs vervang Dhandré van Wyk vir D’Angelo Roberts op haker, terwyl slot, André Smit, plek maak vir Werno Heyns om sy taal te wys. Agterlangs mis Liam Pringle uit, met Kamo Monkwe wat in ‘n skrumskakel-stryd met die Jansies se gevaarlike JP Jooste gewikkel sal wees.
Hoërskool Eldoraigne verwelkom ‘n gekweste Hoërskool Piet Retief op tuisbodem. Die span van Mpumalanga lek hul wonde na die dragslae van 7-78 wat hulle verlede week op die lyf geloop het teen Die Hoërskool Menlopark. Die Drake sal nietemin steeds op hul hoede moet wees met die wete dat die besoekers se gewilligheid om hardlooprugby te speel uiters gevaarlik kan wees.
Die tuisspan, wat self onder die Parkies deurgeloop het, het besluit om nie minder nie as vyf veranderinge aan te bring vir Saterdag. Oopkantflank, Cameron Killian, se terugkeer kan ‘n massiewe hupstoot vir die Eldos beteken, verál as ‘n teenvoeter vir die Pieties se Melo Xulu by die afbreekpunte. Voorts bied Justin Meintjies se skuif van steelkanflank na agsteman vir Esdee Kotze die geleentheid om te wys wat in hom steek.
Die spanne:
EG Jansen t. Hoërskool Nelspruit om 12:20 in Boksburg:
EG Jansen: 15 Otlatleng Zulu, 14 Jayden du Preez, 13 Christopher Combrink, 12 Egan Pretorius, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Deshean Pietersen, 9 JP Jooste, 8 Dian Botha, 7 Jacques van Tonder, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Clayton du Buisson, 3 Deveraux Weideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Russouw.
Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Gideon Gilliland, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Kamo Monkwe, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Prosper Chillione, 5 Werno Heyns, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 Dhandré van Wyk, 1 Lindani Ndlela.
Eldoraigne t. Piet Retief om 13:20 in Centurion:
Eldoraigne: 15 MJ Buitendag, 14 Tristan Lee, 13 Hanno Jacobs, 12 Ethan Beyer, 11 Hugo Theron, 10 Damian Elferink, 9 Darren Bruwer, 8 Esdee Kotze, Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 MC Scheepers, 4 Jadon van Rooyen, 3 Chase Wessels, 2 Jean de Villiers, 1 Marnes Prinsloo.
Piet Retief: 15 Buhle Ngubane, 14 Spephelo Phakathi, 13 Siphosethu Sibisi, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Kyle Stock, 8 Fiso Methula, 7 Melo Xulu, 6 Lethu Hlope, 5 Prince Mahlangu, 4 Avongwe Maduna, 3 Aza Phakathi, 2 Wayne Mitchell, 1 Sfundo Mayisa.





