Louis Botha die kampioene in Bethlehem
Louis Botha van Bloemfontein is as die eerste kampioen van die Dihlabeng Sewes-toernooi wat deur Hoërskool Voortrekker in Bethlehem aangebied is gekroon. Die span van die Rosestad het Hentie Cilliers van Virginia 26-24 in ‘n opwindende naelbytstryd in die eindstryd verslaan om met die titel weg te stap. Die twee skole het verlede jaar ook sake in die Bloemfonteinse been van die @lantic Sewesreeks gebots met Henties wat die kroon gedra het.
Dié twee spanne het ook saam ses spelers tot die span van die toernooi bygedra wat later vanjaar op die Dubai Sewes in aksie sal wees. Die Suid-Afrikaanse Skole-vleuel van verlede jaar, Jinxi Molapo van Ben Vorster in Tzaneen het ook die span gehaal. Hy was vroeër vanjaar ook deel van die Suid-Afrikaanse skole sewesspan wat die goue medalje op die Australiese Jeug Olimpiese-fees (AJOF) in Sydney verower het.
Refiloe Rampeta, Olwethu Ndakisa, Luke Cyster en Dale Koopman van Louis Botha het die span van Dubai gehaal, terwyl Henties se Ethan “Yster” Williams en Jonathan April ook die span gemaak het. Voortrekker het self twee spelers, Johan Vermaak en Wian van der Watt wat die span gehaal het. Dit is jammer dat die Trekkers se Sechaba Matsoele na twee wedstryde beseer is. Hy sou indien hy in al sy span se wedstryde gespeel het heel moontlik ook die span gehaal het. Die span is deur die voormalige Blitsbok, Neil Powell gekies.
Die Trekkers het in sy kwarteindstryd teen Hoërskool Middelburg van Mpumalanga 12-elk gelykop gespeel. Nie een van die twee spanne kon na bykomende speeltyd daarin slaag om punte aan te teken nie. Die gasheer het na die halfeindstryd deurgedring op die feit dat hy eerste in die wedstryd punte aangeteken het.
Die Trekkers het met slegs twee punte 15-17 teen die uiteindelike kampioen in die halfeindstryd die knie gebuig. Louis Botha het in sy drie groepwedstryde vir Sarel Cilliers van Glencoe (26-10), Witteberg (33-5) en Middelburg (29-5) verslaan. Die kampioen het in die kwarteindstryd vir Brandwag van Benoni 17-7 geklop.
Menlopark was ook een van die sterk spanne op die toernooi. Hulle is egter in die halfeindstryd deur Hentie Cilliers 17-10 uitgeskakel. Die span van Pretoria kon egter vroeër sy Moses teëgekom het toe hy Wilgerivier in ‘n harde kwarteindstryd 19-14 uitoorlê het. Wilgerivier het die meeste van die speelwerk in die tweede helfte gedoen. Indien die span van Frankfort kort voor rustyd sy aanval op Menlopark se doellyn kon afrond kon sake dalk ander gestaan het.
Span na Dubai Sewes wat na afloop van die Dihlabeng Sewes in Bethlehem gekies is:
Jinxi Molapo, Floyd Ntimane (albei Ben Vorster), Refiloe Rampeta, Olwethu Ndakisa, Luke Cyster, Dale Koopman (almal Louis Botha), Johan Vermaak, Wian van der Watt (albei Voortrekker), Jonathan April, Ethan Williams (albei Hentie Cilliers), Ruan de Beer and Arnold Gerber (albei Menlopark).
Al die uitslae:
Groep A: Voortrekker 32 Eldoriagne 7; Brandwag (Benoni) 34 Kestell 0; Voortrekker 14 Brandwag (Benoni) 7; Eldoraigne 36 Kestell 0; Voortrekker 51 Kestell 5; Brandwag (Benoni) 31 Eldoraigne 0.
Groep B: Hoërskool Middelburg 14 Witteberg 0; Louis Botha 26 Sarel Cilliers 10; Middelburg 31 Sarel Cilliers 0; Louis Botha 33 Witteberg 5; Witteberg 17 Sarel Cilliers 15; Louis Botha 29 Middelburg 5.
Groep C: Hentie Cilliers 26 Hoërskool Kroonstad 0; Menlopark 43 Vrede 0; Hentie Cilliers 12 Menlopark 12; Hoërskool Kroonstad 36 Vrede 5; Hentie Cilliers 61 Vrede 0; Menlopark 48 Hoërskool Kroonstad 0.
Groep D: Wilgerivier 29 Landboudal 7; Ben Vorster 31 Sentraal 24; Ben Vorster 19 Wilgerivier 7; Sentraal 36 Landboudal 12; Ben Vorster 41 Landboudal 0; Wilgerivier 19 Sentraal 7.
Kwarteindstryde: Bowl – Sarel Cilliers 12 Eldoraigne 5; Witteberg 40 Kestell 7; Landboudal 31 Hoërskool Kroonstad 17; Sentraal 47 Vrede 21. Beker – Voortrekker 12 Middelburg 12 (Voortrekker wen na hulle eerste drie in kragmeting gedruk het); Louis Botha 17 Brandwag 7; Menlopark 19 Wilgerivier 14; Hentie Cilliers 19 Ben Vorster 12.
Halfeindstryde: Skild – Eldoraigne 34 Kestell 5; Hoërskool Kroonstad 28 Vrede 5. Bowl – Witteberg 28 Sarel Cilliers 7; Landboudal 26 Sentraal 19. Plaat – Brandwag 24 Hoërskool Middelburg 0; Ben Vorster 21 Wilgerivier 7. Beker – Louis Botha 17 Voortrekker 15; Hentie Cilliers 17 Menlopark 10.
Eindstryde: Skild – Eldoraigne 34 Hoërskool Kroonstad 7. Bowl – Witteberg 34 Landboudal 0. Plaat – Brandwag 24 Ben Vorster 17. Beker – Louis Botha 26 Hentie Cilliers 24.
Deur Hannes Nienaber
- Oakdale impresses as King Price Derby Series delivers exciting entertainment - 2025-06-09
- BOYS | School Hockey Results – 7 June 2025 - 2025-06-07
- GIRLS | School Hockey Results – 7 June 2025 - 2025-06-07