Lammergeiers dra na vyf jaar uiteindelik alleen die VKB-kroon
Na vyf jaar is die Noord-Natal Lammergeiers uiteindelik weer die alleen die kampioen van die VKB-week.
Die Lammergeiers het Suid-Vrystaat met 26-18 in die eindstryd van die toernooi op Piet Geyer-park in Reitz verslaan. Die Lammergeiers het laas in 2014 die kroon alleen gedra. Die span het wel in 2015 en 2018 die louere met die Luiperds gedeel.
Die Lammergeiers se kantman Shuvaun Palm het die veld vol in die eindstryd gespeel. Palm was ook een van die voorste spelers te sien tydens die Spar-toernooi wat Dinsdag plaasgevind het. Dit maak sy woelige vertoning in die eindstryd nog meer merkwaardig.
Die kampioen se vaskopstut, Juanre Botes, het ook ‘n wedstryd beleef wat hy nog vir lank sal koester. Botes het twee keer sy krag gebruik om oor die Suid-Vrystaters se doellyn te bars. Die Lammergeiers se losskakel, Siwela Minenhle, was nie net ‘n staatmaker met sy skopskoen nie, maar ook die groot planmaker agterlangs.
Suid-Vrystaat se slot Nico Hendrikz het in die doodsnikke gaan druk om aan sy span se aanslag meer aansien te gee. Die span se loskopstut, Jesse Isemonger, het ook ‘n blink vertoning in die eindstryd gelewer.
Suid-Vrystaat se regtervleuel, Pierre Malan, het die toekenning ontvang as die beste agterspeler van die toernooi. Die Luiperds se loskopstut, Hansie Pieterse, het met die toekenning as die Voorspeler van die Week ontvang. Die Speler van die Week was Sandveld se losskakel, Marco Bester.
Sandveld se heelagter, Jabulani Mculwani, het die #HeroDidi toekenning ontvang as die Spelers se Speler van die Week. Mculwani was uitstaande deurgans en is welverdiend die eerste houer van die toekenning.
Puntemakers:
Noord-Natal Lammergeiers 26 (14) – Driee: Juanre Botes (2), Sandile Masondo, Janco Pistorius. Doelskoppe: Siwele Minenhle (4). Suid-Vrystaat 18 (6) – Drie: Jesse Isemonger, Nico Hendrikz. Doelskop: Damien Erasmus. Strafdoele: Erasmus (2).
Sandveld 38 (14) – Driee: Jabulani Mculwani (2), Mahlako Kamahelo, Keagan Human. Doelskoppe: Marco Bester (3). Strafdoele: Bester (4). Rooikatte 13 (6) – Drie: Zenrich Niemand. Doelskop: Jayden Jeanes. Strafdoele: Delano de Leeuw (2).
Luiperds 46 (22) – Driee: Malan Labuschagne (2), Dehan van Zyl, Wessel Nortman, Henru van Wyk, Jacques Scheepers, Pieter Heymans. Doelskoppe: Van Wyk (4). Strafdoel: Van Wyk. Suid-Natal 7 (0) – Drie: Martin Fourie. Doelskop: Duncan Vroom.
Vrystaat Kiewiete 18 (5) – Driee: Andre Jordaan, Juan Smith. Doelskop: Tiaan Basson. Strafdoele: Basson (2). Oos-Vrystaat 14 (7) – Driee: Carl Naude, Soasisa Mofokeng. Doelskoppe: Tokollo Lemako (2).
Panthers 26 (5) – Driee: Jason Volschenk, David Atkintola, Nathan van der Linde. Doelskop: Thato Letsholo. Strafdoele: Letsholo (3). Living Ball 12 (7) – Driee: AJ van der Sandt, Mashome Tshabalala. Doelskop: JF Groenewald.
[powr-comments id=”ef3856d0_1561555474086″]