SuperSport Schools Plus

Kok-lose Kloof wil Wit Bulle tuis plattrek

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-07-18 Tags: ,

RUBEN PIENAAR, losskakel van Affies, duik hier oor vir een van sy span se drieë in hul sege van 43-21 oor Boishaai. FOTO: Marnus Prinsloo

Alle paaie lei Saterdag na Hoërskool Waterkloof waar die titel as Pretoria se beste eerste span beslis sal word.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Die Klofies is vasberade om die Wit Bulle van die Afrikaanse Hoër Seunskool Saterdagmiddag op hul tuisveld in die ooste van Pretoria die stryd aan te sê, al moet hulle sonder kookwater-agsteman, Marko Kok, klaarkom.

Die tuisspan kon die Wit Bulle laas in 2017 met ‘n telling van 24-15 troef. Wat dié sege nóg soeter gemaak het is die feit dat dit op Affies se tuisveld behaal was.

‘n Oorwinning vanjaar sal dus beteken dat die Blou Tornado ‘n wendroogte van sewe jaar kan beëindig.

Voor dit het die Klofies in 2014 ook met 38-21 koning gekraai. Dit is vanjaar straks die span in blou se beste kans om wéér hul Pretoriaanse eweknie te klop.

Albei spanne beleef tot dusver vanjaar ‘n goeie seisoen, met die Klofies wat op grond van wenpersentasie die botoon geniet. Hulle het nog slegs een keer vanjaar hul rieme styfgeloop, met 24-47 teen die voorste eerste span in Suid Afrika, Paul Roos Gimnasium, tydens die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi.

“Ons fokus op dit wat ons wil doen,” het Cobus van Dyk, die Klofies se afrigter gesê. “Die doel is om meer klinies te wees en minder foute te maak.

“Affies is ‘n kwaliteitspan en ons weet wat ons van hulle te wagte kan wees. Ek dink die span wat dit die meeste wil hê op die dag sal seëvier.”

RONAN BASTIAANSE (met bal), heelagter van Waterkloof, trek hier ‘n toon doellyn toe terwyl hy ook ‘n duikslag van die Hoërskool Rustenburg se losskakel, Jayden Meyer, probeer afweer. FOTO: Marius Nortjé

Dit neem egter niks weg van die Wit Bulle, wat vanjaar weer teen ietwat strawwer kompitiese te staan moes kom, nie.

Hul naelskraapse nederlae teen Paarl Gimnasium (19-20) en in die doodsnikke teen hul tradisionele aartsvyand van Bloemfontein, Grey Kollege (27-29), altwee in Pretoria, het gewys dat vanjaar se Affie-span oor meer as genoeg skietgoed beskik.

Die Wit Bulle se losskakel, Ruben Pienaar, is tot dusver uitstekend op dreef. Sy vermoë om die toutjies agterlangs te trek, asook sy bereidwilligheid om enige verdedigingslinie aan te vat, het ‘n groot aandeel gehad in sy span se sukses tot dusver.

Dit help natuurlik dat hy ‘n ervare Janco Purchase aan sy buitekant het. Die SA Skole-binnesenter het vanjaar van krag tot krag gegaan en sy intimiderende lopies in die middeveld en akkurate aangeewerk hou ‘n daadwerklike bedreiging in vir die Klofies.

Voorlangs kan ‘n titaniese stryd tussen die twee agttalle verwag word. Dit is immers hier waar meeste kenners voel ‘n kragmeting gewen of verloor word.

Die Wit Bulle se lostrio en spesifiek hul steelkantflank, Albert Smit, sal die Klofies behoorlik toets.

Die tuisspan moet daarenteen sonder hul staatmaker op agtsteman, Marko Kok, die stryd aandurf. Kok se seisoen is kortgeknip nadat hy ‘n ernstige kniebesering teen Helpmekaar Kollege opgedoen het.

Dawid Prinsloo, wat in dieselfde wedstryd op steelkantflank in aksie was, vervang vir Kok op agsteman.

Die goeie nuus vir die tuisspan is dat die hardwerkende steelkantflank, Lendrey Janse van Vuuren, sy terugkeer maak. Van Vuuren se tweestryd met Smit behoort verdere vet op die vuur te gooi.

Die spanne:

Hoërskool Waterkloof t. Afrikaanse Hoër Seunskool om 13:30 in Pretoria

Waterkloof: 15 Llwelyn Steenberg, 14 Ronan Bastiaanse, 13 Malcolm George, 12 Riwan van Aswegen, 11 Jayden Badenhorst, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Dawid Prinsloo, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

Affies: 15 Ruben Groenewald, 14 Nicolaas Grobler, 13 Hendre Schoeman, 12 Janco Purchase, 11 Eagan Roux, 10 Ruben Pienaar, 9 Zirk Meyer, 8 Ruan Lippoldt, 7 Albert Smit, 6 Lohan Potgieter, 5 Christiaan de Wet, 4 Munting Hattingh, 3 Deon Botes, 2 Christiaan Potgieter, 1 Werner Vrey.

Skeidsregter: Reghardt O’Neill.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.