Garsie Bere klou aan voorsprong om Wit Bulle met 38-34 te troef


Dit was so hittete of die Wit Bulle van Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het ’n agterstand van 20 punte teen Hoërskool Garsfontein, op hul tuisveld, Berepark, uitgewis.
Die Bere was uiteindelik met 38-34 baas nadat Affies se regtervleuel, Dandré Brink, met tyd reeds verstreke kort voor die doellyn uitgeduik is.
Dit was die span in turkoois se eerste sege oor sy grootste vyand in die Jakarandastad sedert 2023.
Die Wit Bulle het met 30-10 teen die omdraaislag agtergeloop. Hulle het in die eerste helfte geen antwoorde op die Bere se aanvalsvernuf gehad nie.
Die tuisspan se agterste driehoek, wat uit linkervleuel Neil de Kock, regtervleuel Yuvrah George en heelagter Drewyn Baron bestaan, was soos gebruiklik ‘n deurlopende bedreiging.
Elkeen van dié drie het agter die besoekers se doellyn gaan draai. Baron se drie was waarskynlik die aanskoulikste en is as die Suzuki Game Changing Moment in die kragmeting aangewys. Dit fokus op die spesifieke oomblik wat uiteindelik die grootste impak op die uitslag van die wedstryd gehad het.
Die Bere se oopkantflank, Stefan “Kwagga” van der Vyver, is as Speler van die Wedstryd aangewys.
Van der Vyver was uitstekend en dit was veral sy hoë werksverrigting oor die volle 70 minute wat hom bo die res laat uitstaan het.
Vir die Wit Bulle was daar min beter as binnesenter, Rico du Plessis, en linkervleuel Joshua Gouws. Gouws het die hoofrol in die besoekers se terugvegpoging vertolk. Sy driekuns aan drieë het 15 belangrike punte opgelewer.
Hoewel Du Plessis nie die doellyn oorgesteek het nie, was sy werk by die afbreekpunte uitstaande. Hy was soos ’n wafferse flank en het menige kere omgekeerde balbesit vir sy span bewerkstellig.
Boonop was sy bydrae op die aanval ’n belangrike deel van Gouws se driekuns. Dit het verder vir ’n aanskoulike tweestryd met die Bere se binnesenter, Keegan Knighton, gesorg. Knighton se direkte spelpyl het Du Plessis getoets en gereeld beteken dat die tuisspan oor die voordeellyn kon kom.
Affies se haker, Charl Els, het self die doellyn twee keer oorgesteek. Els is ’n groot aanspraakmaker om as haker vir die Blou Bulle by vanjaar se Cravenweek uit te draf. Dit was juis sý eerste drie, net ná rustyd, wat die momentum na die besoekers se kant geswaai het en vir ‘n groot gedeelte van die tweede 35 minute daar gehou het.
Puntemakers:
Garsfontein 38 (30) – Drieë: Neil de Kock, Drewyn Baron, André van Wyk, Yuvrah George, Justin Blom. Doelskoppe: Ruan Fluks (2). Strafdoele: Fluks (3). Affies 34 (10) – Drieë: Joshua Gouws (3), Charl Els (2). Fourie Roberts. Doelskoppe: Reuben Venter (2).
Ander spanne:
o.16: Affies 34, Garsfontein 26.
o.15: Affies 47, Garsfontein 18.
o.14: Affies 59, Garsfontein 10.

Click here for more King Price Derby Series articles.




