SuperSport Schools Plus

Kathu beeindig Vryburg se onoorwonne status

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-04-26 Tags: ,

Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Kathu het verlede week met ’n sege van 10-5 oor Hoërskool Vryburg gewys dat hy vanjaar ook onder die gunstelinge in die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) moet tel.

Voor die nederlaag teen Kathu het die span van Vryburg met ’n onoorwonne rekord gespog en is boonop verlede week as kampioen van die Pukke 16-reeks gekroon. Kathu spog nou met ’n onoorwonne rekord na agt wedstryd. Die jaarlikse interskole-kragmeting tussen Kathu en die Hoërskool Kalahari van Kuruman se Leeus beloof om vanjaar een van die hoogtepunte in skolerugby in die Noord-Kaap se sorg.

In die Sandveld-liga se A-afdeling is daar nie vanjaar veel tussen die spanne te kies nie. Wessel Maree van Odendaalsrus beklee egter na sy tweede sege van die liga teen Riebeeckstad (34-24) die boonste posisie op die puntelys.

Wessel Maree het met die omdraaislag ’n skrale voorsprong van 10-7 geniet. Riebies het met nog drie minute oor in die kragmeting voorgeloop, maar ’n oordeelsfout het die span duur gekos. Die verloorspan se uitblinkers was die stut Christo van Staden, die agtsteman Bernard Geyser, die losskakel Nathan Fourie en senter Docter Makhubu.

In Bothaville se oorwinning van 29-27 oor Hennenman vlei die telling die verloorspan ietwat. Hennenman het in die laaste beweing gaan druk om meer aansien aan hul vertoning te gee.

Die grondslag vir Bothaville se sege is voorlangs gelê met die haker, Hanco van Aswegen, wat hier aan die spits was. Agterlangs het die senter Carlo Kleynhans, vleuel Reinhardt Grobler, die skrumskakel Willem van der Merwe en die senter Casper Cordier goeie vertonings gelewer.

In die B-afdeling blyk dit of Sandveld van Wesselsbron en Hoopstad vanjaar die vroeë gunstelinge is om bo te eindig. Sandveld het Welkom High met 36-14 verslaan, terwyl Hoopstad vir Bultfontein met 38-26 geklop het. Sandveld het verlede week vir Bultfontein met 17-0 getroef.

Hoopstad se losskakel, Jaco Burger, het 28 van sy span se punte in die oorwinning aangeteken. Hy het drie keer agter die doellyn gaan kuier, al vyf sy span se drieë verdoel en ook met ’n strafdoel geslaag.

In die Oos-Vrystaat het Vrede vir Ladybrand ’n loesing van 42-0 toegedien, terwyl Harrismith vir Paul Erasmus van Senekal met 26-13 die loef afgesteek het.

Puntemakers: 

Wessel Maree 34 (10): Drieë: Tian Potgieter, Antonio Masolodi, Ashley Swart, Tenoho Pani, Thabiso Mokhatla, Brandon Smit. Doelskoppe: Mpho Moretlo (2). Riebeeckstad 24 (7): Drieë: Christo van Staden, Nathan Fourie, Fenni Tlhakanelo, Johan Marais. Doelskoppe: Marais (2). 

Bothaville 29 (24): Drieë: Reynard Grobler, Willem van der Merwe, Casper Cordier, Carlo Kleynhans, Hanco van Aswegen. Doelskoppe: Kleynhans (2). Hennenman 27 (15): Drieë: Neels Pretorius, Thinus Claassens, Richard Badenhorst, Stefan Diniso. Doelskoppe: Albie Venter (2). Strafdoel: Venter. 

Sandveld (Wesselsbron) 36 (12): Drieë: Chris Marais (2), Christo Reynecke, Lucky Bob, Johan Rall, Francois van Heerden. Doelskoppe: Bob (3). Welkom High 14 (7): Drieë: Charles Masike, Keke Mohono. Doelskop: Mohono. 

Hoopstad 38: Drieë: Jaco Burger (3), Rènard van Jaarsveld, Raymond Erasmus. Doelskoppe: Burger (5). Strafdoel: Burger. Bultfontein 26

Vrede 42: Drieë: Stefan du Toit (2), Jurgens Olivier, Ruan van Zyl, Pieter Neethling, Arthur Languira. Doelskoppe: Pieter Neethling (6). Ladybrand 0

Harrismith 26: Drieë: Mankoe Mokonenyana, Nyakallo Masitha, Tobatsi Monareng, Karabo Dhlamini. Doelskoppe: Siza Mthembu (3). Paul Erasmus (Senekal) 13

Hoërskool Kathu 10: Drieë: Marko van Niekerk, Leon van Jaarsveld. Vryburg 5.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.