Kan iemand Klofies en Garsies se opmars na Noordvaal-titel stuit?
Die kanse is goed dat die Gunn & Moore Noordvaal-krieketreeks se trofee weer vanjaar staanplek in Pretoria sal inneem.
Die verdedigende kampioen, die Hoërskool Waterkloof, het Saterdag sy plek in die halfeindronde van die reeks met ‘n klinkende sege van nege paaltjies oor Marais Viljoen van Alberton bespreek. Marais Viljoen was tot 116 lopies ingeperk met slegs SW Kemp (46) wat hond haaraf met die kolf in die hand kon maak.
Die wenspan se regterhandse naatbouler Hardus Coetzer was sy span se voorste bouler. Hy het van drie kolwers vir net 20 lopies ontslae geraak. Hy het ook ‘n onoorwonne 40 lopies met die kolf aangeteken.
Klofies se aanvangskolwer Ludwig Kaestner (51*) en Coetzer (40*) het met ‘n onoorwonne vennootskap om die tweede paaltjies hul span oor die eindstreep gekry.
Waterkloof sal in die halfeindronde teen Monument van Krugersdorp te staan kom. Monnas sal tuisveldvoordeel vir die wedstryd geniet.
Monnas het in sy kwarteindstryd teen die Hoërskool Middelburg met 89 lopies as oorwinnaars van die veld gestap. Die span van Krugersdorp het 276 lopies aangeteken danksy stewige bydraes van Dylan Lues (84), D Botha (37*) en Marno Potgieter (32).
Middelburg wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier se Corné Janse van Vuuren (3/39) en Gerhard Nel (3/48) het met hul boulwerk Monnas se kolwers probleme besorg. Middelburg kon slegs 187 hierop antwoord met Jaco Jacobs (44) wat die meeste weerstand met die kolf in die hand gebied het.
Clayton Schutzer (3/34) het die beste met die bal in die hand vir Monnas gevaar.
Garsfontein het ook ‘n oortuigende sege van 170 lopies oor Hans Moore van Benoni behaal. Robert Ferreira (112) het sy honderdtal van slegs 107 aflewerings aangeteken. Hy en Raynard van Niekerk (80) het ‘n vennootskap van 134 lopies om die vierde paaltjie gedeel.
Garsies sal in die halfeindronde teen Potchefstroom Volkskool te staan kom. Volkies het vanjaar ‘n gedugte span en kan dalk die Pretorianers se partytjie bederf.
Volkies het in sy kwarteindstryd vir die Hoërskool Pietersburg met agt paaltjies plat geslaan. Pietersburg se Limpopo-speler Glen Groenewald (59) het met sy vyftigtal aansien aan die Pieties se kolfbeurte gegee. Waldu Kotze (4/34) het die meeste skade aan Pietersburg se kolforde berokken. Hy is goed deur Van Zyl Smit ondersteun.
Smit het ook met die kolf ‘n onoorwonne 77 lopies gemoker. Martin Fourie (74) het ook met ‘n vyftigtal vir Volkies tot in die haldeindronde gehelp.
Beknopte telkaarte:
Marais Viljoen 116 (SW Kemp 46; Hardus Coetzer 3/20, Tristian du Plessis 2/16, Jordan Hermann 2/20); Waterkloof 118/1 (Ludwig Kaestner 51*, Hardus Coetzer 40*). Waterkloof wen met nege paaltjies.
Monument 276 (Dylan Lues 84, D Botha 37*, Marno Potgieter 32; Corné Janse van Vuuren 3/39, Gerhard Nel 3/48); Hoërskool Middelburg 187 (Jaco Jacobs 44, Ekstras 28; Clayton Schutzer 3/34, Dylan Lues 2/21, Owen Klaassen 2/30). Monument wen met 89 lopies.
Garsfontein 317/9 (Robert Ferreira 112, Raynard van Niekerk 80; Shane Wallace 3/64, Donovan du Randt 2/36); Hans Moore 144 (Juandré Johnson 38, Amaan Khan 24; Christiaan Oberholzer 2/5, Raynard van Niekerk 2/17, Juandré Scheepers 2/38). Garsfontein wen met 170 lopies.
Hoërskool Pietersburg 193 (Glen Groenewald 59, L Nel 34; Waldu Kotze 4/34, Van Zyl Smit 3/37); Potchefstroom Volkskool 196/2 (Van Zyl Smit 77*, Martin Fourie 74, Jannie Claassens 22; Louis Labuschagné 1/23). Potchefstroom Volkskool wen met agt paaltjies.