SuperSport Schools Plus

Jong Bokkies wen ondanks verspeelde kanse

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-06-10

 

Hoewel die Suid-Afrikaanse o.20-rugbyspan se sege van 21-8 oor Samoa in die Ecolight-stadion in Pukekohe beteken dat die span as die voorste gekeurde span tot die halfeindstryde deurdring, sal die wedstryd onthou word vir die verspeelde kanse deur die Jong Bokkies.

Suid-Afrika het ‘n hele paar kere gulde geleenthede om te gaan druk laat verbygaan deur oordeelfoute sowel as hanteerfoute. Die Suid-Afrikaners het in die eerste helfte in die koue en nat toestande besluit om van die dryfmaalbeweging van hulle lynstane gebruik te maak. Die span se kaptein en losskakel, Handré Pollard, het met sy lang lynskoppe vir Samoa in toom gehou.

Die reusagtige slot van Samoa, Cameron Skelton het die Jong Bokkies se dryfmale van lynstane af ‘n hele paar keer gestuit. Die 19-jarige reus wat nog volgende jaar ook aan dié toernooi mag deelneem staan ‘n allemintige 2.07m in sy sokkies en laat die skaal op 135kg kreun. Hy het egter ook twee keer strafskoppe afgestaan in sy pogings om die Suid-Afrikaners te stuit. Samoa se agtsteman, Richard Mariota het toe die prys daarvoor betaal toe hy vir herhaalde oortredings by die afdeling van die spel koelkas toe gestuur is.

Die Jong Bokkies se agtsteman, Aidon Davis vanaf ‘n skrum sy span se eerste drie gedruk kort na Mariota koelkas toe is. Dit het aan die Jong Bokkies ‘n voorsprong van 7-5 gegee, maar dit het nie lank geduur nie. Samoa se losskakel, William Talataina Mu, het kort daarna en net voor rustyd met ‘n strafdoel sy span met 8-7 laat voorloop.

Samoa het na 30 minute se spel die eerste drie in die wedstryd gedruk nadat Harry Luteru ‘n skop van die Jong Bokkies se heelagter, Jesse Kriel, afgestorm het. Die senter, Nathaniel Apa, het die bal deurgeskop en opgepik om te gaan druk. Apa het in die tweede helfte ook tyd in die koelkas deurgebring na ‘n hoogvat op die Suid-Afrikaanse vleuel, Sergeal Petersen.

Vir die Jong Bokkies het sy binnesenter, André Esterhuizen oorgestorm vir ‘n drie om sy span vir die eerste keer te laat voorloop in die tweede helfte. Die sege is verseël toe Petersen ‘n welverdiende drie aan die einde van die wedstryd gaan druk het.

Puntemakers:

Suid-Afrika 21 (7) – Drieë: Aidon Davis, André Esterhuizen, Sergeal Petersen. Doelskoppe: Handré Pollard (3). Samoa 8 (8) – Drie: Nathaniel Apa. Strafdoel: William Talataina Mu.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.