Jansies en Klofies behou onoorwonne status in SDC Noordvaal Cup met “sussie-soen”
BOKSBURG. – Daar is steeds twee onoorwonne spanne oor in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Die twee onoorwonne spanne, EG Jansen en Waterkloof, het Saterdag in Boksburg met 32-elk gelykop gespeel. Albei spanne het ook ‘n bonusput vir vier drieë verdien.
Die Jansies se vaskopstut, Duwan Potgieter, tel sonder twyfel onder die voorste skolespelers in sy posisie vanjaar. Hy het weer sy span van voor gelei en sy werksverrigting is sonder weerga.
Buiten Potgieter het die slot Gerhard van Aswegen en die haker, Danré Pike, ook skitterende vertonings opgedis.
Die Klofies het vroeër vanjaar in Boksburg vir EG Jansen met 45-38 in die doodsnikke van hul NWU-reeks kragmeting verslaan.
Waterkloof se binnesenter, Happy Makate, was op sy stukke, terwyl die agtsteman, Marko Kok, ook elke keer met die bal in die hand ‘n hele paar verdedigers besig gehou het.
Garsfontein het sy mojo terug en het 64 punte in die tweede helfte ingeryg om vir Hoërskool Rustenburg met 74-12 af te ransel.
Die Rusties het teen lemoentyd ‘n voorsprong van 12-10 op Bere-park geniet. Watookal die Turkoois Bere se hooafrigter, Johan du Plessis, aan sy span gesê het, het gewerk.
Die span se kaptein en binnesenter, Luann Olivier, begin al meer sy voete in die middelveld vind. Hoewel hy die Ligbloues vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar as flank op die Cravenweek sal verteenwoordig lê sy toekoms dalk in die middelveld.
Voorlangs het die flank, Stefan Pretorius, asook die flank Thinus Oosthuizen ook uitmuntend vertoon.
Helpmekaar-kollege het met ‘n sege van 33-17 oor Noordheuwel in Krugersdorp getoon dat hulle ook nog aanspraakmakers in die reeks is.
Die wenspan se vaskopstut, Ulrich van der Merwe, het met sy stormramlopies sy span deurgans op die voorvoet gehou. Indien hy sy vertonings op die Cravenweek later die maand voortsit sal hy ‘n sterk aanspraakmakers op ‘n SA Skole-trui wees.
Agterlangs het die buitesenter, Ty Ax, ‘n uitstekende wedstryd teen die hoog aangeskrewe Cheswill Jooste beleef. Jooste was verlede jaar een van die voorste heelagters op skolevlak in Suid-Afrika, maar kon nog nie dieselfde spelpeil in die middelveld herwin nie.
Hopelik kan hy tydens die Cravenweek op heelagter weer uitsonderlike talent ten toon stel.
Monument het in Alberton vir Marais Viljoen met 64-34 kaf gedraf. Die span van Krugersdorp se flank RJ Barnard het saam met die agtsteman, Vincent Roberts, voorlangs die pap dik aangemaak.
Ernesto Oersen het op buitesenter ook gewys dat hy ook hier deur sy afrigter, Tjaart van der Walt, ingespan kan word indien nodig. Oersen, wat gewoonlik op vleuel uitdraf, se dartellopies is net so effektief in die middelveld.
In die Kaap se suidelike voorstede het SACS met ‘n naelskraapse sege van 30-29 oor Wynberg Boys’ High sake goed deurmekaar gekrap. Die wenspan se heelagter, Jack Benadé, het met twee drieë ook vir oulaas tong vir die Westelike Provinsie se keurders uitgesteek.
Rondebosch Boys’ High het vir Bishops met 31-16 die loef afgesteek. Bishops het wel moedig vertoon en Rondebosch het teen rustyd ‘n naelskraapse voorsprong van 12-11 geniet.
In die SDC Noordvaal Cup se Groep 2 begin sake na die besigheidskant toe staan.
Die titel as Puma-kampioen sal aan die Hoërskool Ermelo of Lydenburg behoort. Die Erries het sy plek in die eindstryd met ‘n sege van 25-13 oor Ferrum van Newcastle bespreek.
In die ander halfeindstryd het Lydenburg vir Rob Ferreira met 34-27 verslaan.
In Limpopo het Ellisras vir Frikkie Meyer van Thabazimbi in ‘n titaniese stryd met 25-22 getroef. Albei dié spanne gaan ook vanjaar sterk aanspraakmakers op die Noordvaal-titel wees.
Die verdedigende kampioen, Midstream College, het in die Blou Bulle-liga vir Overkruin met 33-27 geklop.
Al die uitslae:
Skolerugby-uitslae – 1 Junie 2024
SDC NOORDVAAL CUP
Groep 1
Beker: EG Jansen 32, Waterkloof 32; Helpmekaar 33, Noordheuwel 17; Garsfontein 74, Hoërskool Rustenburg 12; Monument 64, Marais Viljoen 34.
Groep 2
Blou Bulle: Midstream College 33, Overkruin 27; Centurion 32, Hoërskool Tuine 20; Bergsig Akademie 25, Pretoria-Noord 22; Wonderboom 25, HTS John Vorster 22. Limpopo: Ellisras 25, Frikkie Meyer 22; Hans Strijdom 29, Nylstroom 17; Frans du Toit 33, HTS Tom Naudé 24. Pumas: Ermelo 25, Ferrum 13; Lydenburg 34, Rob Ferreira 27. Valke: Oosterlig 43, Hoërskool Sasolburg 14; Brandwag (Benoni) 29, Leeuwenhof 19; Hans Moore 50, Driehoek 7.
Groep 3
Limpopo: Piet Potgieter 31, Northern Academy 21; Louis Trichardt 38, Curro Heuwelkruin 7.
KWAZULU-NATAL
Durban High School 23, Michaelhouse 10; St Charles College 32, Glenwood 19; Kearsney College 48, Clifton 0; Maritzburg College 26, Hilton College 20; Northwood 30, Westville Boys’ High 27.
NOORDVAAL
Pretoria Boys’ High 36, St John’s College 24; St Alban’s College 42, St Benedict’s College 7; Parktown Boys’ High 24, St David’s Marist 19; Cornwall Hill College 8, St Andrew’s (Bloemfontein) 3; Warmbad 76, Stanford Lake College 16.
OOS-KAAP
Graeme College 31, Dale College 0; HTS Port Rex 21, Cambridge 15; Mary Water 0, Kingswood College II 25.
WES-KAAP
Rondebosch Boys’ High 31, Diocesan College 16; SACS 30, Wynberg Boys’ High 29.
- Seymore leads Paul Roos from the front at Peninsula Festival - 2025-01-08
- Khan and Roth gets SACS off to a good start at Peninsula Festival - 2025-01-08
- Hansen to lead SA u19 against England - 2025-01-07