Janse van Rensburg druk vier keer vir Trekkers
DIE Griffons se Cravenweek-flank van verlede jaar, André Janse van Rensburg se spelpeil begin op die regte tyd ‘n opwaartse kurwe te toon. Die kaptein van die Hoërskool Voortrekker het Saterdag vier drieë in sy span se oorwinning van 69-13 oor Hoërskool Kroonstad op laasgenoemde se tuisveld gedruk.
Janse van Rensburg behoort vanjaar weer ‘n staatmaker vir die Perses te wees. Die Trekkers se stut Ernie Sumner, skrumskakel Eloff Scheepers, senter Wian van der Watt en Junior Smit tel onder die uitblinkers. Die span van Bethlehem het elf drieë ingeryg. Vir Blouskool het die agtsteman Jan-Louis du Plessis, senter PR Janse van Rensburg en slot Erlo Kleinhans moedig probeer walgooi.
Hentie Cilliers het in Virginia vir Witteberg van Bethlehem 38-10 geklop. Die tuisspan kon rustyd slegs ‘n voorsprong van 17-10 opbou.
Henties se agtsteman Gregan Hull het soos gewoontlik uitstaanse spel gelewer. Agterlangs die senter, Riaan Pretorius goeie spel vir die wenspan gelewer.
Welkom Gimnasium se seisoen begin ook behoorlik ritme kry. Gimmies het HTS Welkom 41-0 getroef. Die wenspan het rustyd net 10-0 voorgeloop, maar in die tweede helfte na ‘n hoer rat oorgeskakel.
Voorlangs het die flank Albert Brummer en agtsteman Riaan Vermeulen vir die wenspan uitgeblink. Agterlangs verdien die losskakel JL Carry-Smith ‘n klop op die skouer vir sy vertoning.
Die Afrikaanse Hoerskool Kroonstad het Goudveld 24-11 uitoorle. Vir die wenspan kan die slot Francois Stemmet, flank Gerrit Otto, senter JP le Roux en stut David Rule tevrede met hul vertonings voel.
Reitz is stewig oppad om sy plek in die uitkloprondes van die Oos-Vrystaatse liga te bespreek. Reitz moes hard werk om Harrismith 12-8 Saterdag onder te kry. Die span se sege van 19-12 oor Paul Erasmus twee weke gelede het die span van Reitz se kanse ook ‘n hupstoot gegee.
Bothaville het in die Sandveld vir Wessel Maree 64-0 afgestof. Die wenspan se losskakel, Jeandre Kleinhans het 24 van sy span se punte aangeteken. Bothaville het elf driee in die weghol-sege gedruk. Kleinhans het sewe daarvan gedoel en ook self twee gedruk.
Riebeeckstad het met sy oorwinning van 30-0 oor Hennenman verseker dat hy regstreeks tot die halfeindstryde van die Sandveld-liga deurdring. Riebies het in die lynstane die oorhand gehad en baie besit in die afdeling van die spel afgevat. Die span se uitblinkers voorlangs was stut Tiaan du Plooy, slot Kobus Scheepers, en die lostrio Morné Nortjé, Zander Bester en JM Uys. Agterlangs het die losskakel Siegie van Wyk en vleuel Johan Engelbrecht goed vertoon.
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22
- Gekweste Wit Bulle sal teen Grey wil wys dat hulle steeds kan storm - 2025-03-20