Henties en Rooiskool vertewig kanse vir uitspeelrondes
DIE Afrikaanse Hoërskool Kroonstad en Hentie Cilliers van Virginia het albei Saterdag met seges hulle aanspraak versterk om die uitkloprondes van die Griffon-liga te haal.
Rooiskool het Goudveld-Hoërskool met 25-18 die loef afgesteek. Dit was ’n klipharde wedstryd en die wenspan het slegs die druk beter as sy teenstanders verwerk.
Vir die span van Kroonstad het Francois Stemmet op buitesenter sy stempel op die kragmeting afgedruk. Voorlangs het die flank Henry Searle, agtsteman Johan Steyn en slot Erik Knoetze met hulle inklimspel beïndruk.
Gouties se senter Carlton Coeries, skrumskakel Albert Bezuidenhout en slot Pietman Kotze het goeie vertonings vir hul span gelewer.
) Hentie Cilliers se agtsteman, Nathan Kemp, was die sleutelspeler in sy span se sege van 38-29 oor Witteberg in Bethlehem.
Die span van Virginia het na Bethlehem gereis met die hoop om te minste ’n bonuspunt-sege te behaal, wat hy ook vermag het.
Kemp was rotsvas op die verdediging en het ook elke keer as hy die bal onder die arm vasgeknyp het meters ver veld vir sy span gewen.
Die kantman Damain May het sy fisieke teenwoordig by die afbreekpunte, sowel as op die aanval, laat geld.
Die span se losskakel, Luan James, verdien ook lof. Hy het as spelskepper verskeie geleenthede op die aanval geskep en sy spanmaats in gapings gesit.
) Daar is geen keer aan Hoërskool Voortrekker van Bethlehem in vanjaar se liga nie.
Die Trekkers het die Hoërskool Kroonstad 71-3 gestoomroller.
Die eerste helfte van die wedstryd was slegs 21 minute lank, terwyl die eindfluitjie na net 24 minute se spel in die tweede helfte geblaas het.
Die Trekkers se losskakel, Tokkie van Zyl, stapel die punte behoorlik in die liga op. Hy het Saterdag weer 21 punte tot sy span se sege bygedra. Hy het deurgedraf vir ’n drie, asook agt doelskoppe oorgeklits.
Die slot Henko Naudé, vaskopstut Niel Janse van Rensburg en agtsteman Junior Oosthuizen het voorlangs die grondslag vir die sege gelê.
) Welkom-Gimnasium was in ’n minder aanskoulike kragmeting teen HTS Welkom met 34-0 baas.
Die Tekkies het Gimmies by die afbreekpunte probleme besorg.
Die wenspan se agtsteman, SJ Malherbe, was uitmuntend op die verdediging. Gimmies was rustyd net 12-0 voor.
Puntemakers:
Voortrekker 71 – Drieë: Junior Oosthuizen (2), Lethole Mokoena (2), Tiisetso Madonsela, Apin Odendaal, Edrich Victor, Etienne Becker, Tokkie van Zyl, Donovan Bouwer. Doelskoppe: Van Zyl (8). Hoërskool Kroonstad 3 – Strafdoel: Reinhardt Kleinhans.
Hentie Cilliers 38 – Drieë: Benji Muller (2), Siyamamkela Nxgesha (2), Ezrick Alexander. Doelskoppe: Jaywinn Juries (4), Luan James. Strafdoel: Juries. Witteberg 29.
AHS Kroonstad 25 (10) – Drieë: Herholdt Hills, Francois Stemmet, Louis Steyn. Doelskoppe: Ruben Aucamp (2). Strafdoele: Aucamp (2). Goudveld-Hoërskool 18 (10) – Drieë: Carlton Coeries, Pietman Kotze. Doelskop: Malcolm Britz. Strafdoele: Britz (2).
Welkom-Gimnasium 34 – Drieë: Nick Fortuin, Richard Earle, Morena Mofokeng, SJ Malherbe, Nazo Nkala, Tristan Rothman. Doelskoppe: JL Carry-Smith (2). HTS Welkom 0.
- Bishops bags crucial victory over Boishaai in Schools SA20 - 2025-01-24
- Nini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16