Helpies en Boishaai soen mekaar in Noord/Suid-stryd
Dit was nou wel ‘n gelykop-uitslag, maar vir Helpmekaar-kollege het dit soos ‘n wen gevoel toe hulle met 20-elk gelykop teen die Hoer Jongenskool Paarl tydens die tweede dag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi gespeel het.
Helpies se losskakel, Tiaan Botes, het in die doodsnikke van die wedstryd ‘n strafdoel van 50 meter oorgeskop om die gelykop-uitslag af te dwing. In die blydskap van Helpies se spelers toe die bal oor die dwarslat seil en Boishaai se teleurstelling kon mens aanneem hoe die twee spanne oor die uitslag voel.
Botes was nie net ‘n staatmaker met sy skopskoen nie, maar was ook met sy algemene spel ‘n uitblinker vir die span van Johannesburg. Voorlangs het die kantman, Tyler Skudder, ‘n hele paar keer oor die voordeellyn gebars.
Boishaai se agtsteman, Gideon van Wyk, is vir sy spel in die wedstryd as Speler van die Wedstryd aangewys. Van Wyk het voorlangs vir Helpies besig gehou.
Puntemakers:
Helpmekaar 20 (10) – Driee: Marx Brink, Joshua Jooste. Doelskoppe: Tiaan Botes (2). Strafdoele: Botes (2). Hoer Jongenskool Paarl 20 (14) – Drie: Gideon van Wyk. Strafdoele: Kian Meadon (4). Skepdoel: Meadon.




