Harrismith verbreek droogte van 28 jaar in Riemland
Harrismith se eerste rugbyspan het Saterdag ’n droogte van 28 jaar in die Riemland verbreek.
Die span het in die eindstryd van die Oos-Vrystaatse liga op sy tuisveld, die Platberg-stadion, vir Reitz met 26-20 getroef om vir die eerste keer sedert 1988 die trofee omhoof te hou.
Die nuwe kampioen se kaptein en losskakel, Chi-Chi Chickwe, was aan die voorpunt van die roemryke sege. Eben van Wyk het as agtsteman Harrismith destyds in 1988 tot die titel gelei. Harrismith het daardie jaar in die eindstryd van die destydse Vrystaatse Direkteurstrofee teen Wessel Maree van Odendaalsrus die knie gebuig.
Reitz het hope durf getoon deur terug te veg na hy op ’n stadium met 5-19 agter was. Hy het met slegs twee minute oor in die kragmeting met 20-19 voorgeloop, maar Harrismith se heelagter, Tobatsie Monareng, het hul harte in die doodsnikke met sy drie gebreek.
Harrismith se flank Wessel Badenhorst was ook ’n doring in Reitz se vlees. Wilgerivier van Frankfort wat die vorige vyf jaar kampioen van die Riemland was het vanjaar in die Griffon-liga saam die groot honde gedraf.
Harrismith kom nou in die Vrystaatse Platteland se halfeindronde teen Hennenman te staan. Bothaville en Reitz sal mekaar in die ander halfeindstryd pak.
Albei wenners van die wedstryde sal tot die halfeindronde van die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) deurdring. Volksblad is ’n medeborg van die kompetisie.
In die Oos-Vrystaatse B-liga eindstryd het Kestell in ’n taai stryd vir Winburg met 12-5 uitoorlê.
Bothaville is vir die vyfde agtereenvolgende jaar as kampioen van die Sandveld-liga gekroon. Hy was met 22-20 bo in ’n naelbyt-eindstryd om die kroon teen Hennenman in die HT Pelatona-stadion in Welkom.
Die kampioen se vleuel Reinhardt Grobler het Hennenman se losskakel, Albé Venter, se laaste doelskop-poging vier minute voor die einde afgestorm om seker te maak sy span dra die kroon. Indien die skop oor was sou Hennenman as kampioen gekroon gewees het omdat hulle die eerste drie van die wedstryd gedruk het.
Bothaville se groot en sterk senter, Carlo Kleynhans, was soos altyd weer meer as ’n handvol om in toom te hou. Die losskakel, Bertram Crawthorne, en die agtesteman, Charl de Waal, was op die verdediging goud werd vir hul span.
Die vleuel Morné Dodds was gevaarlik elke keer wat hy in besit gestel is, terwyl die voorryman Hanco van Aswegen ook ’n uitstaande wedstryd beleef het.
Puntemakers:
Bothaville 22 (19): Drieë: Marnus Klopper, Willem van der Merwe, Stefan Bester. Doelskoppe: Carlo Kleynhans (2). Strafdoel: Kleynhans. Henneman 20 (15): Drieë: Fanie Pretorius (2), Thinus Claassen, Albé Venter.
Harrismith 26: Drieë: Chi-Chi Chickwe (2), Tobatsie Monareng, Francois Taljaard. Doelskoppe: Siza Mthembu (3). Reitz 20: Drieë: Neil van der Merwe, Janes van Coller, Geyer Terblanché. Doelskop: Van der Merwe. Strafdoel: Van der Merwe.
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16
- IEB Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-15
- Rondebosch finish the prestigious Peninsula Festival as the only unbeaten side - 2025-01-12