SuperSport Schools News

Griffons met 27-10 oor Griekwas baas

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-06-16

NuusG GriffonsDie Griffons se o.18-rugbyspan gaan gewis weer ‘n gedugte span op die 52ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole in Stellenbosch wees. Die Perses het gister met hulle sege van 27-10 oor sy eweknie van Griekwaland-Wes op Diamantveld se hoofveld hier heelwat redes gehad om oor te glimlag.

Die span se heelagter, Marco Labuschagné, het waarskynlik die beste vertoning deur ‘n agterspeler op die Bondedag gelewer. Hy was rotsvas onder die hoë bal en het ook op die aanval verskeie kere ‘n hele paar verdedigers na lug laat gryp. Hy het egter ook ‘n geelkaart van die skeidsregter, Nico Smahl, gekry na Griekwas se vleuel, Cameron Hufke, na ‘n hoë hangskop teen Labuschagne gebots het en hard terug aarde toe gekom het. 

Die span van die Noord-Vrystaat se lynstane het ook goed vertoon en veral die haker, Duke Jantjies, met sy akkurate ingooiwerk verdien hier vermelding. Hy het ook in die los saam met die twee slotte, Michiel Bosman en Ettienne O’Donovan, gewoel.

Die Poubloues het met die omdraaislag met 7-0 voorgeloop na sy flank Rian Kotze vanaf ‘n rolmaalbeweging oorgeval het. Die tuisspan het egter nie as ‘n span saamgespeel nie en dit het hom duur te staan gekom.

Griekwas se flank, Janco Cloete, was ongetwyfeld sy span se beste speler op die veld. Hy het nooit moed opgegee nie en ook by die afbreekpunte ‘n hele paar keer of daarin geslaag om die Perses se besit te vertraag om omgekeerde besit te bewerkstellig. Die agsteman, Johan Joubert, kan ook maar tevrede met sy vertoning voel.
Griekwas se loskopstut, Boan Venter, het ook in die skrums vir Relebohile Sekhobo opgedons.

Eintlik verdien feitlik al die Perses se spelers ‘n klop op die skouer, maar die skrumskakel Jason Olivier verdien ook vermelding vir sy flinke diens agter die oond. Sy skakelmaat, Luan James, het in die tweede helfte met ‘n goed getrefde skepdoel sy span vir die eerste keer laat voorloop.

Die plaasvervanger-vleuel, Richman Gora, het vandat hy op die veld gekom het ook gelyk asof hy lus was vir hardloop. Hy het ook dan met ‘n systap of twee verby ‘n paar verdedigers geglip om die Griffons se derde drie te gaan afrond.

Puntemakers:

Griffons o.18 27 (0): Drieë: Ettienne O’Donovan, Johan Steyn, Richman Gora. Doelskoppe: Luan James (3). Strafdoel: James. Skepdoel: James. Griekwas o.18 10 (7): Drie: Rian Kotze. Doelskop: Gerco Nortjé. Strafdoel: Nortjé.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.