Griffons behaal eerste sege op Cravenweek oor Vrystaat in 36 jaar
STELLENBOSCH. – Die Griffons het gister op die eerste dag van die 52ste Cravenweek vir hoërskole in die Markotter-stadion hier vir die eerste keer in 37 jaar daarin geslaag om die Vrystaat op dié toernooi te verslaan.
Die Perses het sy bure met 41-27 gister verslaan. Die Westelike Provinsie se direkteur van rugby en oud-Bok, Gert Smal was die Noord-Vrystaat se kaptein met die span se laaste sege oor die Vrystaat op die toernooi in 1979. Die Perses was op daardie dag met 9-6 in die hoofwedstryd van die week baas.
Die span van die Noord-Vrystaat se vleuel, Richman Gora, het met sy flinke voetwerk ‘n aandeel in drie van sy span se drieë gehad waarvan hy self een afgerond het. Hy was sonder twyfel sy span se grootste held. Die losvoorspeler Johan Steyn, senter Siya Nxgesha, skrumskakel Jason Olivier en die slot Michiel Bosman het belangrike rolle vertolk om die sege vir hulle span moontlik te maak.
Nxgesha het twee keer die doellyn oorgesteek met sy tweede drie wat die laaste spyker in die Vrystaters se doodskis was. Hy het die bal in sy eie kwartgebied onderskep en deurgenael om onder die pale af te rond.
Die Vrystaatse agtsteman, Dian Schoonees, het moedig vir die wenspan probeer. Die span se SA Skole-stut, IG Prinsloo en flank Jabulani Mtshatsheni het ook ‘n hele paar keer met hulle lopies daarin geslaag om oor die voordeellyn te kom. Agterlangs het die senterpaar, PR Serfontein en Francois Aggenbach, ook daarin geslaag om gapings in die verdediging te vind
Die oorwinning beteken die Griffons was in sy laaste nege wedstryde op die Cravenweek nog nie aan die verloorkant nie. Die span sal more in sy tweede wedstryd teen die Westelike Provinsie te staan kom. Die twee spanne was laas in 1998 teen mekaar slaags met die Perses wat destyds met 32-20 koning gekraai het.
Noord-Vrystaat en die Vrystaat het laas in 1988 mekaar op die Cravenweek ontmoet. Toe was die Vrystaters 35-0 baas met toekomstige Springbokke soos die wyle Ruben Kruger, Naka Drotské, Charl Marais en Pieter Müller in hulle geledere. Dit is die Noord-Vrystaters se enigste nederlaag nog teen die Vrystaat sedert die ontstaan van die Cravenweek in 1964.
Die Perses het in die enigste ander ontmoeting tussen die twee spanne op die toernooi in 1972 met 13-4 as oorwinnaars uit die stryd getree.
Namibië het in sy kragmeting teen Grens-platteland die bal hope lug gegee en dit word beklemtoon deur die feit dat albei die span se vleuels, Chad Plato en Tobie van Zyl, dubbelle driedruk-plesier ervaar het. Die Biltongboere was met 38-14 baas. Ondanks die nederlaag was dit waarsknylik Grens-platteland se beste vertoning in ‘n lang tyd op die Cravenweek. Namibië se losskakel, Cliven Loubser, se besluitneming op die aanval was uitmuntend.
Toe Boland met slegs agt minute oor in die eerste helfte teen die Limpopo Blou Bulle deur sy heelagter, Earl Dowrie, bloed geruik het, het die span na ‘n hoër rat oorgeskakel om uiteindelik gemaklik met 52-7 as oorwinnaars van die veld te stap. Die Wynboere se losskakel, Adriaan van der Bank, en die slot en kaptein, Jacobus Abel, het met hulle spel in die kragmeting beïndruk.
Grens het met 32-28 in ‘n wipplank-stryd teen die Pumas koning gekraai. Die wenspan se slot, Kwanda Dimaza, het met sy lopies vir die Pumas probleme besorg. Sy spanmaat en flank, Heinrich Nieuwenhuizen, en sy direkte teenstander, JC Pretorius, was in ‘n hewige tweestryd gewikkel.




