Grey PE kan hom teen stutfaktor vasloop
Grey-kollege se stutfaktor van meer as 450kg voorspel vandag yslike probleme vir Grey Boys’ High School (Grey PE) se eerste rugbyspan.
Die span van Bloemfontein se vier stutte, Stephan Kotze (116 kg), Stephan Pretorius (110 kg), Schalk van der Merwe (104 kg) en Marcel van der Merwe (128 kg), is nog nie vanjaar in trurat gedruk nie. Die viertal is ook oorgehaal om die besoekers vandag hier in die skrums te karnuffel.
Kotze draf volgende week vir die Suid-Afrikaanse Skole-span uit, terwyl Schalk van der Merwe die Suid-Afrikaanse Akademie-span in 2008 verteenwoordig het en as een van die belowendste jong vaskopstutte in die land beskou word. Pretorius kan homself ongelukkig ag dat hy nie in die nasionale skole-span ingesluit is nie. Hy moes weens Baksteen van Heerden se besering die Vrystaters noodgedwonge op haker op die Cravenweek uithelp.
Teenoor die tuisspan se swaargewigte in die voorry, weeg Grey PE se stut, Michael van Vuuren, slegs 93kg. Van Vuuren het Oostelike Provinsie ook as haker op die Cravenweek verteenwoordig.
Die SA Skole-agtsteman Siyamthanda Kolisi (flank) kan met sy kragtige lopies die besoekers se gevaarman wees. Hy kan goeie ondersteuning van sy kaptein en agtsteman, Siyanda Mangaliso, te wagte wees.
Grey-kollege kan intussen vandag met ’n 44ste agtereenvolgende sege sy oorheersing van skole-rugby bevestig.
Grey-kollege was in sy laaste 43 wedstryde elke slag aan die wenkant en blaai ’n mens deur die geskiedenisboeke van kragmetings tussen bogenoemde twee spanne, word niks goeds vir Grey PE voorspel nie.
Die span van Port Elizabeth kon nog nooit daarin slaag om ’n oorwinning in die Rosestad oor Grey te behaal nie.
Die besoekers se span van 2001, destyds onder die leierskap van die Springbokflank Luke Watson, is die span wat die naaste aan ’n oorwinning weg van die huis kon kom. Die span van Bloemfontein het 18-15 op dié dag koning gekraai. Grey PE kon laas in 2004 op sy tuisveld ’n sege oor die Vrystaters behaal. Die span van die Baai was toe 17-14 baas.
Grey-kollege se diepte gaan egter in sy wedstryd volgende week teen Pretoria Boys’ High beproef word. Hy sal dan sonder sy ses Suid-Afrikaanse Skole-spelers moet klaarkom.
Die spanne:
Grey-kollege: Riaan Britz, Sethu Tom, Piet Lindeque, Inus Keyser, Chejane Mallane, Johan Goosen, Pieter Rademan (k), Niell Jordaan, Henco Venter, Egbert Ras, Carl Wegner, Jean Cook, Stephan Pretorius, Johan Meintjies, Stephan Kotze.
Grey PE: Clint Sacks, Voughan Casling, Jonathan Mudrovic, Nicholas Holton, Phaphama Hoyi, Luke Daniels, Hugh van Niekerk, Siyanda Mangaliso (k), Siyamthanda Kolisi, Brendon Terblanche, Ronald Ferreira, JJ Swart, Zolani Faku, Johan Nell, Michael van Vuuren.
Afskop: 15:00
Skeidsregter: Jaco Peyper
Ander wedstryde (tuisspan eerste genoem): 11:50 – Jim Fouché t Louis Botha; 11:50 – Sand du Plessis t St. Andrew; 12:00 – Sentraal t Duineveld; 12:45 – Aliwal-Noord t Fichardtpark.
[powr-comments id=”71840814_1589303696750″]