Gimmies stoom voort in die Griffon-liga
Onthou maar gerus die naam van Keke Morabe.
Die agtsteman van Welkom Gimnasium het Saterdag ‘n driekuns aan drieë in sy span se sege van 52-7 oor die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in die Leeukuil in Kroonstad behaal. Gimmies moes veel harder vir die sege werk as wat die telling vertel. Die span van Welkom het teen rustyd ‘n voorsprong van 19-0 opgebou.
Morabe kan indien hy op sy vertonings sover vanjaar voortbou homself later vanjaar in die Suid-Afrikaanse Skole-span bevind. Hy is ‘n sterk baldraer en speel ‘n belangrike rol in Gimmies se spelpatroon. Vir Rooiskool het sy twee flanke, Franna van Niekerk en Bertus Deetlefs, goeie vertonings gelewer.
Gimmies in ongetwyfeld na slegs drie rondes van die Griffon-liga die volslae gunsteling om as kampioen gekroon te word. Die span se aanslag het wel ‘n reuse terugslag in Kroonstad beleef. Die span se haastige vleuel Marno April het ‘n kraak in sy tibia opgedoen en sal vir ‘n ruk slegs die spel van die kantlyn af kan dophou.
Goudveld-Hoërskool se binnesenter, Dylan Smith, was aan die voorpunt van sy span se sege van 31-14 oor Voortrekker van Bethlehem. Smith het nie net twee keer op sy span se tuisveld die doellyn oorgesteek nie. Sy verdediging was rotsvas en hy het telkens gapings in die Trekkers se verdediging gevind.
Voorlangs het die agtsteman, SJ Eloff, sy span op die voorvoet met ‘n hele paar kraglopies gekry.
Witteberg moes hard werk om Wilgerivier van Frankfort met 15-12 die loef af te steek. Die grondslag vir die sege is voorlangs deur die Wittes gelê. Dit was veral die stut Matthew Meyer, flank Marnus Nel en die agtsteman, Werner van der Berg, wat met hul spel vir die wenspan beïndruk het.
Puntemakers:
Welkom Gimnasium 52 (19) – Drieë: Keke Morabe (3), FC du Plessis, Keith van Aswegen, Ryan Davids, Jaime Heyns, Husain Banzi. Doelskoppe: Du Plessis (6). AHS Kroonstad 7 (0) – Drie: Valie Wiggens. Doelskop: Marcell Binnedell.
Goudveld-Hoërskool 31 (12) – Drieë: Dylan Smith (2), SJ Eloff, Craig Colby, Mpho Makata. Doelskoppe: Leonard Jacobs (3). Voortrekker 14 (7).
Witteberg 15 (7) – Drieë: Mpho Nsutle, Werner van der Berg. Doelskop: Barend Jonker. Strafdoel: Jonker. Wilgerivier 12 (0) – Drieë: Juan Jordaan, Rhuan Niemand. Doelskop: Kobus Hattingh.




