SuperSport Schools Plus

Gim breek Boishaai met naasgrootste sege sedert 1915

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-08-04 Tags: , , ,

FOTO: Louis D van Niekerk

Daar was Saterdag geen keer aan Paarl Gimnasium tydens die grootste interskole ter wêreld in die Paarl nie.

Die Gimmies het hul tweede grootste sege nog sedert 1915 oor die Hoër Jongenskool Paarl met 30-8 in die Faurestraat-stadion behaal.

Dié sege is merkwaardig as daar in ag geneem word dat die gemiddelde punteverskil tussen die twee spanne sedert 2014 slegs 3 punte per wedstryd was. Eintlik 2.75 om statisties presies korrek te wees.

Die Gimmies was teen rustyd met die telling op 16-0 reeds stewig in die saal. Die span se slot Quintin Potgieter is na afloop van die kragmeting welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.

Potgieter het fisiek nie ‘n tree vir Boishaai teruggestaan nie. Hy het die bal goed gedra en by die afbreekpunte sy lyf op die spel geplaas. Die feit dat hy en die buitesenter, Markus Muller, nog in graad 11 is sal Boishaai-ondersteuners slapelose nagte besorg.

Vir Boishaai het sy kantman Rubin Dames moedig probeer.

Paul Roos Gimnasium is na sy sege van 59-20 oor Boland Landbou steeds onoorwonne met slegs een afspraak teen die magtige Grey-kollege in Stellenbosch wat nog voorlê.

Die kragmeting wat op 17 Augustus plaasvind is reeds al uitverkoop na daar nog paviljoene gereël is.

Gepraat van onoorwonne Charlie Hofmeyr van Ceres het sy seisoen onoorwonne afgesluit deur Montagu met 48-24 die loef af te steek. Die span sal as een van die bestes in die skool se geskiedenis bekend staan.

Voor die naweek se kragmeting in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup was daar agt van die tien spanne in die reeks wat nog tot die halfeindronde kon deurdring.

Ná Saterdag se kragmeting is die vier rolspelers vir die halfeindronde nou bekend. EG Jansen, Waterkloof, Garsfontein en Monument sal in die halfeindronde in aksie wees.

Monnas het ratte verwissel om vir Hoërskool Rustenburg met 87-8 pak slae toe te dien. Die Wit Bulle se heelagter, Theuns du Plooy, het vier keer ‘n draai agter die doellyn gemaak en ook met ‘n doelskop geslaag.

Menlopark het vir Noordheuwel met 26-19 verras, terwyl EG Jansen met ‘n sege van 50-7 oor Hoërskool Nelspruit seker gemaak het van ‘n tuishalfeindstryd.

Waterkloof het vir Marais Viljoen met 47-14 kaf gedraf. Op Berepark het Garsfontein soos verwag gesukkel om hul nemesis, Helpmekaar Kollege, te bêre. Die Garsies was op die ou einde met 54-40 baas.

Verlede jaar was die Turkoois Bere met 50-49 baas. Die twee spanne gee mekaar gewoonlik behoorlik gas.

Voortrekker van Bethlehem het met ‘n sege van 36-28 vir Welkom Gimnasium as Griffon-kampioen onttroon. Dit was die Trekkers se vierde titel en hul eerste sedert 2014 in die liga.

Die Vrystaatse eindstryd het ook vir ‘n opskudding gesorg deurdat Landboudal van Jacobsdal vir die eerste keer in sy geskiedenis as Vrystaatse kampioen gekroon is. Die Lanties het die verdedigende kampioen, Jim Fouché, met 34-23 in die eindstryd getroef.

Die Vrystaatse kampioen sal nou in die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga halfeindronde teen die Trekkers te staan. Welkom Gimnasium sal in die ander halfeindtryd teen Duineveld van Upington te staan kom.

Die Velties het sy rieme in die jaarlikse Groot Interjol naelskraaps met 14-15 teen Hoërskool Upington vasgeloop.

Al die uitslae:

SDC NOORDVAAL CUP

Groep 1

Beker: Menlopark 26, Noordheuwel 19; Monument 87, Hoërskool Rustenburg 8; Garsfontein 54, Helpmekaar 40; EG Jansen 50, Hoërskool Nelspruit 7; Waterkloof 47, Marais Viljoen 14. Plaat: HTS Middelburg 36, Zwartkop 7; Ligbron Akademie 47, Kempton Park 22; Hoërskool Klerksdorp 26, Transvalia 10; Oos-Moot 29, Hoërskool Middelburg 29. Skild: Hoërskool Pietersburg 41, Heidelberg Volkskool 38; Die Anker 33, Hugenote (Springs) 19; Wesvalia 32, Secunda 31. Bowl: Hoërskool Randburg 18, Hoërskool Alberton 17; Potchefstroom Volkskool 33, Dr. Malan 28; Potchefstroom Gimnasium 44, Eldoraigne 37; Merensky 27, Piet Retief 24.

Groep 2 – Halfeindronde

Overkruin 30, Ermelo 29; Bergsig 32, Dinamika 21.

Groep 3 – Halfeindronde

Linden 22, Bergvlam 20; Riebeeckrand 26, Vryburg 25.

Groep 4 – Halfeindronde

Carletonville 27, Witbank High 21; Kanonkop 38, Warmbad 33.

Groep 5A – Halfeindronde

Die Wilge 26, Heilbron 19; Morgenzon Landbou 12, FH Odendaal 3.

Groep 5B – Halfeindronde

Sannieshof 32, Sizanane 5; Christiana 34, Glenbrack 27.

KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP

Grey High School 48, Selborne College 27; Durban High School 24, Jeppe 20; Maritzburg College 39, Glenwood 20; Marlow Landbou 31, Framesby 26; Hudson Park 24, Dale College 17; Graeme College 38, Muir College 19; Nico Malan 29, Hoërskool Punt 19; Parel Vallei 15, Pearson 10; Queen’s College 55, Cambridge 6; HTS Port Rex 33, Bergsig 19; HTS Daniël Pienaar 26, Die Brandwag (Uitenhage) 25.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Voortrekker (Bethlehem) 36, Welkom Gimnasium 28; Landboudal 34, Jim Fouché 23; Hoërskool Upington 15, Duineveld 14; Hendrik Potgieter 36, Zastron 29; Wilgerivier 32, Ficksburg 15; Hopetown 29, Martin Oosthuizen 24; Grey-kollege 31, Oakdale Landbou 22; Douglas 23, Hoërskool Kathu 20; Curro Kathu 41, Hartswater 19.

WES-KAAP

Paarl Gimnasium 30, Hoër Jongenskool Paarl 8; Paul Roos Gimnasium 59, Boland Landbou 20; Wynberg Boys’ High 38, Bishops 16; Rondebosch Boys’ High 43, SACS 5; Stellenberg 38, Milnerton 20; Hoërskool Bellville 31, Strand 20; Hugenote (Wellington) 31, Brackenfell 19; Charlie Hofmeyr 48, Montagu 24; DF Malan 27, Hermanus 23; Hopefield 38, Curro Langebaan 8; HTS Bellville 42, De Kuilen 10; Labori 39, Fairburn College 13; Robertson 41, HTS Jakes Gerwel 14; Bosmansdam 34, Violets-klub 10; Hoërskool Durbanville 79, Melkbosstrand 13.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.