SuperSport Schools Plus

SSS_Logo_180px.png

Gewese Bok se dogter laat ma asook Mari-Lise Furstenburg se interhuis-rekord in die slag bly

By Hannes Nienaber , in Athletics | Featured Athletics | News Featured | Main , at 2024-01-24 Tags: , ,

Cornelda van der Westhuyzen (neé Pretorius) en haar dogter Emma-Lee van der Westhuyzen. FOTO: Ben Viljoen Facebook

Almal het al gehoor dat iemand se rekord steeds sedert hy of haar skooljare staan.

Skole se interhuis-rekords bied daarom altyd interessante leesstof. Vanjaar tydens die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal se kleurebyeenkoms het daar een van die skool se ouer rekords gespat.

Dié rekord van Cornelda Pretorius in die 100m vir meisies o.14 het al sedert 1992 agter haar naam gepryk. Pretorius se rekord is onlangs deur haar dogter, Emma-Lee van der Westhuyzen, geëwenaar.

Pretorius is natuurlik Cornelda se nooiensvan – en Emma-Lee is haar en die voormalige Springbok-losskakel Jaco van der Westhuyzen se dogter. Voorwaar goeie gene van albei kante af.

Jaco is self ‘n oud-leerling van Ben Viljoen. Hy het die Springbokke in 32 toetse verteenwoordig.

Emma-Lee het Mari-Lise Furstenburg (deesdae Coetzer) se rekord in die 200m in die slag laat bly. Furstenburg se rekord staan al die afgelope 44 jaar in die rekordboeke op 26.90 sekondes (1980). Emma-Lee het die rekord met ‘n skitterende 26.50 sekondes in die slag laat bly.

Dit was ook die oudste rekord in Ben Viljoen se interhuis-rekordboek.

Furstenburg was ‘n uitstaande atleet op skool en haar nasionale jeugrekord (o.17) in die 100m (11.54) het vir ‘n ongelooflike 38 jaar gestaan, voordat Viwe Jingqi (Tuks Sportskool, 11.47) dit in 2022 verbeter het. Jingqi het dit weer later in 2022, tydens die Suid-Afrikaanse Sub-Jeug, Jeug- en Junior-kampioenskappe, tot 11.40 sekondes verbeter.

Furstenburg was in standerd ses en sewe (deesdae graad agt en nege) in Ben Viljoen voordat sy haar skoolloopbaan vanaf standerd agt (graad 10) aan Bergsig in Rustenburg voltooi het.

Grey-kollege in Bloemfontein se oudste skolerekord staan agter die naam van H du Plooy vir die 100m vir seuns o.14 wat hy in 1980 in ‘n tyd van 11.05 sekondes afgeblits het. Dié rekord is sederdien in 2005 deur Chejane Mallane geëwenaar. Mallane het later in sy skoolloopbaan ook vir Grey se eerste rugbyspan uitgedraf.

Suid-Afrika se voormalige hekkiesloper, LJ van Zyl, behou steeds twee langhekkie-rekords sedert 2000 (o.15) en 2001 (o.16), terwyl nog ‘n nasionale atleet, Rynhardt Janse van Rensburg, se 800m-rekords vir seuns o.16 (1:58.82) en o.17 (1:56.00) steeds staan.

Indien jou rekord nog staan by jou skool se interhuis deel dit met ons via e-pos na hello@superschoolsnews.co.za. Enige skool se organiseerder wat dalk hul skool se lys van interhuis-rekords of ‘n staaltjie wil deel is ook meer as welkom om kontak te maak.  

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.