Garsies klop Affies vir die eerste keer, Gim betaal dalk duur prys vir sege oor Wynberg
Dit was ‘n oomblik waarvoor die Turkoois Bere van die Hoërskool Garsfontein lank moes wag, maar Saterdag het hulle vir die eerste keer ooit die Afrikaanse Hoër Seunskool se Wit Bulle verslaan.
Garsies het naelskraaps met 20-19 die knoop deurgehaak. Dit was die eerste keer sedert 2010 wat die twee spanne mekaar op die rugbyveld die stryd aangesê het.
Die Bere het reeds teen rustyd ‘n voorprong van 20-7 opgebou en Affies kon danksy twee geelkaarte in die tweede helfte terugveg om amper die gasheer se partytjie te bederf.
Abri van der Westhuizen (agtsteman) en Michail Damon (heelagter) is elk tien minute koelkas toe deur die skeidsregter, Stephan Geldenhuys.
Garsies se groot held in die sege was sy haker, De Wet Lottering, wat vir Affies telkemale probleme by die afbreekpunte besorg het. Hy het ook in die fisieke aspekte van die spel sy lyf behoorlik op die spel geplaas.
Die wenspan se losskakel, Nicallen Gabrielsen, asook die heelagter, Damon, verdien ook vermelding. Vir Affies het sy agtsteman, Beyers Roos, ‘n reuse vertoning gelewer.
Paul Roos Gimnasium se regtervleuel, Luke Graham, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se sege van 30-14 oor Grey High School in Gqeberha behaal. Die span van Stellenbosch se flank Herman Lourens was voorlangs ook ‘n groot doring in die tuisspan se vlees.
Paarl Gimnasium het in Kaapstad ‘n sege van 33-14 oor Wynberg Boys’ High behaal. Die oorwinning het egter teen ‘n prys gekom met sy losskakel, Liam Koen, wat vroeg in die wedstryd die veld weens ‘n besering moes verlaat.
Koen se besering was ‘n skok vir sy span en hul kon teen rustyd slegs ‘n voorsprong van 12-0 opbou. Gimmies het toe danksy sy twee voorrymanne, Jean Fourie en Bernard Bladergroen, asook die haker Luca Bakkes en die binnesenter, PA van Niekerk, daarin geslaag om in die tweede helfte na ‘n hoer rat toe oor te skakel.
Die Hoerskool Pietersburg het met ‘n sege in die doodsnikke van 25-24 oor Ben Vorster van Tzaneen ‘n nuwe era in Limpopo ingelui. Die Vossies was die afgelope paar jaar ongetwyfeld die beste rugbyspan in die provinsie, maar sal hard moet werk indien hy in die toekoms weer met daardie titel wil spog.
Die Pieties se buitesenter en kaptein, Michael de Beer, het die span se flank Reuben Weyer se derde drie van die kragmeting in die doodsnikke verdoel om die sege te beklink.
In Bloemfontein het die weer die laaste se gehad toe spel met rustyd gestaak moes word in die wedstryd tussen Grey-kollege en Outeniqua. Die telling was toe 21-3 in die tuisspan se guns.
Dit was die Kwaggas se eerste besoek aan Bloemfontein sedert hulle met hul laaste besoek in 2005 vir Grey met 29-19 geklop het. Jaco Colyn was deesdae die span van die Rosestad se fisioterapeut is, was destyds die Kwaggas se kaptein en skrumskakel.
Stellenberg se flank Damon Perreira het ook ‘n driekuns behaal in sy span se oortuigende oorwinning van 64-0 oor Parel Vallei. Die Hoer Jongenskool Paarl het ‘n strawwe tweestryd teen Oakdale Landbou met 22-15 in die Brugstraat-stadion gewen.
Die Hoerskool Nelspruit het vir Menlopark met 20-18 met die kous oor die kop huis toe gestuur.
In die Griffon-liga het Voortrekker van Bethlehem, Welkom Gimnasium en Witteberg goeie sege behaal. Die Trekkers het vir Goudveld met 32-15 getroef, terwyl Gimmies gemaklik vir Hentie Cilliers van Virginia met 37-0 kaf gedraf het.
Witteberg het vir Hoerskool Trio van Kroonstad met 43-18 uitoorle. In Kimberley het Diamantveld se losskakel, Wynand Botha, ‘n volle 22 punte tot sy span se oorwinning van 54-10 oor Hoerskool Upington bygedra.
Die Hoerskool Piet Retief het tot die eindstryd van die NWU 16-reeks met ‘n sege van 24-17 oor Pretoria-Noord behaal. Piet Retief sal nou teen Wolmaransstad in die eindstryd te staan kom. Wollies het in die ander halfeindstryd vir Leeuwenhof met 38-26 uitgeskakel.
AL DIE UITSLAE:
NOORDVAAL
Blou Bulle: Garsfontein 20, Affies 19; Eldoraigne 41, Secunda 40; Die Wilgers 20, Erasmus (Bronkhorstspruit) 12; Cornwall Hill College 26, Midstream College 10; Rietondale 19, Gerrit Maritz 0.
Goue Leeus: Monument 45, Jeppe High School 13; Jeppe High School 29, St. John’s College 28; Northcliff 73, Fourways 0.
Limpopo: Hoerskool Pietersburg 24, Ben Vorster 23; HTS Tom Naude 8, Frans du Toit 5; Curro Heuwelkruin 26, Piet Potgieter 22.
Pumas: Hoerskool Nelspruit 20, Menlopark 18; Rob Ferreira 32, Lydenburg 10; Ermelo 19, Heidelberg Volkskool 5; Ligbron Akademie 31, Centurion 28; HTS Witbank 28, Oosterlig 18.
Valke: Kempton Park 12, HTS Middelburg 12.
KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP
Maritzburg College 28, Pretoria Boys’ High 5; Die Brandwag (Uitenhage) 24, Marlow Landbou 22; Empangeni 18, Vryheid Landbou 13; Westville Boys’ High 24, Northwood 10; Pearson 64, Hoerskool Oudtshoorn 20; Selborne College 33, Hoerskool Grens 0; Nico Malan 24, Langenhoven Gimnasium 6.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Voortrekker 32, Goudveld-Hoerskool 15; Welkom Gimnasium 37, Hentie Cilliers 0; Witteberg 43, Hoerskool Trio 28; Diamantveld 54, Hoerskool Upington 10; Duineveld 69, Kalahari (Kuruman) 0; Grey-kollege 21, Outeniqua 3 (wedstryd rustyd gestaak weens weer); Jim Fouche 22, Fichardtpark 15; Hennenman 44, Solomon Senekal 7; Bultfontein 50, Winburg 15; Wilgerivier 59, HTS Welkom 0; Riebeeckstad 17, Wessel Maree 14; Marquard 15, Paul Erasmus (Senekal) 14; Brandfort 35, Reddersburg 10.
WES-KAAP
Paul Roos Gimnasium 30, Grey High School 14; Hoer Jongenskool Paarl 22, Oakdale Landbou 15; Paarl Gimnasium 33, Wynberg Boys’ High 14; Durbanville 43, Milnerton 23; Stellenberg 64, Parel Vallei 0; Rondebosch Boys’ High 46, SACS 24; Robertson 41, Montagu 24; Charlie Hofmeyr 28, Strand 12.
NWU PRESTIGE-REEKS
Hoerskool Rustenburg 27, Hugenote (Springs) 16; Die Anker 19, Montana 14; Zwartkop 23, Potchefstroom Gimnasium 17; Hoerskool Middelburg 50, Jeugland 0; Noordheuwel 12, Wesvalia 11; Oos-Moot 18, Lichtenburg 10.
NWU SPORTREEKS
Hans Moore 26, Standerton 3; Dinamika 30, Overkruin 23; Dr. Malan 34, Wonderboom 13; Florida 21, Hoerskool Alberton 15; Randburg 34, Hoogenhout 7;Standerton 27, Hoogenhout 25.
NWU 16-REEKS
Piet Retief 24, Pretoria-Noord 17; Wolmaransstad 38, Leeuwenhof 26; Vryburg 57, Bekker 0; Fochville 48, Riebeeckrand 0.
[powr-comments id=”558874ac_1649569838834″]




