Gabrielsen breek Norie-harte, terwyl Jansies ook onoorwonne met sege oor Rhinos bly
Noordheuwel se eersterugbyspan het amper vir ‘n opskudding gesorg in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.
Die Nories sou gedink het dat hul die onoorwonne Bere teen die planke het, toe hy danksy ‘n drie deur sy vleuel Keaton van Deventer en doelskop deur die losskakel, JT Kapank, ‘n voorsprong van 28-27 met net minder as vier minute se speeltyd oor geneem het.
Die Garsie Bere het egter met ‘n minuut se speeltyd oor ‘n sege van 30-28 beklink danksy ‘n strafdoel deur sy losskakel, Nicallen Gabrielsen.
Marais Viljoen het sy eerste sege van die reeks behaal deur vir Menlopark met 48-15 kaf te draf. Die span van Alberton se binnesenter, Henrico Germishuizen, het met sy sterk lopies in die middelveld vir die Parkies hoofbrekens besorg.
Germishuizen sak gewoontlik op agtsteman, maar het in die kragmeting vanuit die middelveld ‘n skrikbewind gevoer. Die wenspan se linkervleuel, Brandon Els, het op die aanval asook op verdediging ook ‘n uitmuntende vertoning gelewer.
Vir die Parkies kan sy agtsteman, Rocco Myburgh, heelagter en kaptein, Jayden Fortuin, asook die slot Jacques Oberholzer tevrede met hul vertonings voel. Myburgh het twee keer ‘n draai agter Marais Viljoen se doellyn gemaak.
EG Jansen moes in Mbombela ook so bietjie sweet in die eerste helfte voordat hulle uiteindelik met 48-17 as oorwinnaars van die veld teen die Hoërskool Nelspruit kon stap. Die twee spanne het gaan rus met die telling op 12-elk.
Die Rhinos van Nelspruit het na 50 minute se speeltyd ‘n voorsprong van 17-12 geniet, voordat die Jansies daarin kon slaag om uit eerste rat te kom.
Die Jansies is saam met Garsfontein die enigste twee onoorwonne spanne oor die liga.
Die geluksgodin het Saterdag op die Ras van Rooyen-veld hier nie net vir Helpmekaar-kollege se eerstespan geglimlag nie, maar sommer diep uit haar maag geskaterlag.
Helpies het in die doodsnikke daarin geslaag om ‘n soen van hul sussie te vermy en ‘n sege van 38-31 oor Monnas se Wit Bulle te behaal.
Dié sege beteken dat die span van Johannesburg se kanse om die uitspeelrondes van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te haal ‘n stewige hupstoot gegee.
Die span se slot JP Lombaard het terwyl die sirene geloei het ‘n skop afgestorm en die bal opgepik om onder die pale oor te duik om aan sy span ‘n bonuspunt-sege te besorg.
Dit was Helpies se laaste ligawedstryd en hulle sal die laaste twee rondes voor die uitspele aandagtig dophou. Die span beklee tans die derde posisie op die puntelys met 28 punte.
Monnas (18) en Waterkloof (20) is die ander rolspelers wat nog tot die halfeindronde kan deurdring. Die Wit Bulle moet nog teen Menlopark en Klofies sake uitspook, terwyl Waterkloof ook nog vir Marais Viljoen die stryd moet aansê.
Puntemakers:
Garsfontein 30 (10) – Drieë: Aiden King, Stephan Pretorius, DA Swart. Doelskoppe: Nicallen Gabrielsen (3). Strafdoele: Gabrielsen (3). Noordheuwel 28 (14) – Drieë: Coun-Lee Koekman, Jenemo Luiters, Meyer Opperman, Keaton van Deventer. Doelskoppe: JT Kapank (5).
Marais Viljoen 48 – Drieë: Henrico Germishuizen (2), Stephan van Deventer (2), Cephas van Biljon, Juandré Theron, Dylan Botha, Brandon Els. Doelskoppe: Recce Gerber (4). Menlopark 15 – Drieë: Rocco Myburgh (2). Doelskop: Jayden Fortuin. Strafdoel: Fortuin.
EG Jansen 48 (12) – Drieë: Reon Pretorius (2), Zaide-Leigh Rippenaar (2), R-Jay Pietersen, Jeandré Jacobs, Alonso Meyer, Gerhard van Aswegen. Doelskoppe: David Twala (3), Matthew Bergman. Hoërskool Nelspruit 17 (12) – Drieë: Hughwinn Heyman (2), Regard Vermaak. Doelskop: Theuns Meyer.
Helpmekaar-kollege 38 (10) – Drieë: JP Lombaard (2), Trityne Parsons, Ulrich van der Merwe, Pedri de Wet, Christiaan Steyn. Doelskoppe: Parsons (4). Monument 31 (26) – Drieë: Ceano Everson (2), Hanu Fourie (2), Ernesto Oersen. Doelskoppe: Daylon Myners (3).
Ander spanne:
o.16: Garsfontein 29, Noordheuwel 22; Helpmekaar 38, Monument 10; Menlopark 21, Marais Viljoen 15; Nelspruit 12, EG Jansen 3.
o.15: Noordheuwel 64, Garsfontein 3; Helpmekaar 10, Monument 3; Menlopark 34, Marais Viljoen 0; EG Jansen 15, Nelspruit 10.
o.14: Noordheuwel 14, Garsfontein 14; Monument 24, Helpmekaar 19; Menlopark 31, Marais Viljoen 7; EG Jansen 12, Nelspruit 10.