SuperSport Schools Plus

Frikkie Meyer beklink goeie sege in Alberton

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-04-15 Tags: , , , , ,

Hoërskool Frikkie Meyer het so stil-stil nog ‘n goeie sege in sy 2024-seisoen behaal.

Die span van Thabazimbi het vir Hoërskool Dinamika op hul tuisveld in Alberton met ‘n telling van 22-15 geklop.

Die besoekers het, nadat hulle teen rustyd met 10-15 agtergeloop het, daarin geslaag om Dinamika punteloos te hou in die tweede helfte, terwyl hulle self 12 punte kon aanteken.

Slot, Kwele Mamabolo, het ‘n barshou gespeel en die eerste bresse vir die Frikkies geslaan met sy drie. Dit het die nodige vuur aangesteek onder die res van die pak voorspelers, met loskopstut, Lourens Pieterse, wat ‘n rukkie later oorgebars het vir die besoekers om die voortou te laat neem.

Losskakel, Merico Venter, wat twee drieë verdoel het, het ewe koel ook ‘n laaste strafdoel bygevoeg om die uitslag bo alle twyfel te stel.

Dinamika se agterlyn was grotendeels verantwoordelik vir hul voorsprong met die omdraaislag. Losskakel, Dylan Feenstra, en regtervleuel, Shawlyne Minnies, het hul span se twee drieë aangeteken.

Hoërskool Wonderboom het vir Hoërskool Florida ‘n ordentlike rugbyles in Johannesburg geleer, deur ‘n asemrowende 11 drieë in te ryg en met ‘n telling van 69-0 te wen. Nie minder nie as vier van Wonderboom se spelers het elk ‘n tweekuns behaal.

Dit was egter die Van Greunen-duo wat die kollig gesteel het. Buitsenter, Ryan van Greunen, het die doellyn twee keer oorgesteek en ook met ‘n doelskop geslaag, terwyl Ruan van Greunen, van die plaasvervangerbank af, ook gedruk het en in die kol was met vier doelskoppe.

Dit het beteken dat hulle gesamentlik 25 punte aangeteken het.

Hoërskool Dr Malan se loskopstut, Bernard Benson, se twee drieë het verseker dat die span van Meyerton tuis vir Hoërskool Sasolburg met ‘n telling van 22-13 kon troef. Heelagter, Dian van den Berg, het ook beïndruk met twee doelskoppe en ‘n strafdoel.

Puntemakers:

Frikkie Meyer 22 (10) – Drieë: Kwele Mamabolo, Janco van Deventer, Lourens Pieterse. Doelskoppe: Merico Venter (2). Strafdoel: Pieterse. Dinamika 15 (15) – Drieë: Dylan Feentra, Shawlynne Mienies. Doelskop: Kyle Young. Strafdoel: Young.

Wonderboom 69 (31) – Drieë: Ryan van Greunen (2), Kevin Fensham (2), Navan Jansen (2), Eduan Kritzinger (2), Ryan Otto, Carlo Schmahl, Ruan van Greunen. Doelskoppe: Ruan Van Greunen (4), Tyron Jansen van Noordwyk, Ryan van Greunen. Florida 0.

Dr Malan 22 – Drieë: Bernard Benson (2), Andreas Botha. Doelskoppe Dian van den Berg (2). Strafdoel: Van den Berg. Sasolburg 13 – Drie: Nathan Swanepoel. Doelskop: Meyer Pretorius. Strafdoel: Pretorius.

Ander spanne: 

o. 16: Dinamika 34, Frikkie Meyer 21; Florida 12, Wonderboom 10; Dr Malan 39, Sasolburg 19.

o. 15: Dinamika 7, Frikkie Meyer 3; Florida 8, Wonderboom 8; Dr Malan 20, Sasolburg 15.

o. 14: Dinamika 37, Frikkie Meyer 3; Florida 5, Wonderboom 3; Dr Malan 27, Sasolburg 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.