SuperSport Schools News

Fichies pak die Wolramme van Cradock tydens sy jaarlikse sportdag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-03-03

NewsG Fichardtpark skolerugbyDie Hoërskool Fichardtpark skud weer sy vere reg om Saterdag die grootste skolesportdag in Suid-Afrika en waarskynlik ter wêreld aan te bied.

In die hoofwedstryd van rugby het die gasheer besluit om vanjaar die Wolramme van Marlow Landbou die stryd aan te sê. Fichies blyk egter vanjaar self ‘n lekker span in die veld te stoot. Hulle het verlede week op die Steyners se sportdag vir Wesvalia van Klerskdorp met 29-3 die loef afgesteek. 

Die Wolramme behoort egter nog strawwer teenstand vir die Fichies te wees. Die sportdag is laas in 2020 aangebied met Fichardtpark wat die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met 31-24 met die kous oor die kop huis toe gestuur het. Die Fichies het in die vorige drie hoofwedstryd van die dag vir Rooiskool verslaan.  

Die Wesgrow-reeks skop ook tydens die sportdag af met Diamantveld en Sentraal wat mekaar die stryd sal aansê. Diamantveld is die vroeë gunsteling om koning in die kragmeting te kraai. Diamonds het verlede naweek Grey-kollege se derdespan met 32-19 verslaan.

Sentraal het sy seisoen met ‘n sege van 19-5 oor Grey-kollege se vierde span verlede week afgekop. 

Landboudal van Jacobsdal sal teen ‘n omgekrapte Welkom Gimnasium op die veld draf. Die Gimmies het verlede week teen Grey se eerstes met 15-64 in die stof gebyt. Die span sal omgekrap wees oor hulle vertoning verlede week. Die Lanties het Aliwal-Noord verlede week met 33-17 die loef afgesteek. 

Goudveld van Welkom skop sy seisoen teen Noord-Kaap van Kimberley af. Die wedstryd beloof om ook vir heelwat opwinding te sorg. Albei spanne is ook deel van die Wesgrow-reeks, maar is nie in dieselfde groep nie. Die Gouties sal na die wedstryd presies weet hoeveel werk nog voorlê voor hulle volgende week op hul eie sportdag teen Fichies hul aanslag in die Wesgrow-reeks afskop. 

Al die wedstryde op die A-veld word regstreeks op DigiTV uitgesaai – volg die volgende skakel na die wedstryde –  https://bit.ly/Fichies2022

Die bepalings is: 

A-VELD

08:00 – Hentie Cilliers vs Aliwal-Noord
09:10 – Sand du Plessis vs Hopetown
10:20 – Louis Botha vs Hoërskool Klerksdorp
11:30 – Sentraal vs Diamantveld
12:40 – Landboudal vs Welkom Gimnasium
13:50 – Noord-Kaap vs Goudveld-Hoërskool
15:00 – Jim Fouché vs Lichtenburg
16:20 – Fichardtpark vs Marlow Landbou

[powr-comments id=”d2b11670_1646289091597″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.