SuperSport Schools Plus

Fichies-eerstes mik na netbalglorie

By Charne van der Merwe , in Netball | News , at 2024-02-06 Tags:

Fichardtpark se eerste netbalspan. Agter: Karla Pretorius (afrigter), Etna Pottas (spanbestuurder) Joanize Herbst, Lana Ronne, Inge Jacobs, Giselle Shehab, Anja Fourie, Rochelle Matthee.
Voor: Gilden Valentine, Maroné Coetzee, Leilani Gertenbach, Meruscke Mostert.

Hoërskool Fichardtpark het met trots hul eerste netbalspan vir die 2024-seisoen bekendgestel.

Onder leiding van die bekwame Protea-netbalster, Karla Pretorius, wat die rol van netbalhoof in 2023 aanvaar het, spog die span met vyf matrieks, drie talentvolle graad 11-leerders en twee belowende graad 10-spelers.

Onder Pretorius se leiding is die doel nie bloot sukses nie, maar ook om ‘n positiewe spangees te kweek en ‘n effektiewe netbalprogram te vestig.

Terwyl die span sy visier op die hoogs mededingende Wesgrow Sentrale Skole-sportreeks het, met teenstanders soos Jim Fouché, Sentraal, Goudveld, Voortrekker, Witteberg, Trio en Diamantveld, mik Pretorius na ‘n top-vier-plasing.

Die ambisies hou nie daar op nie, want Pretorius beoog dat die span ook ‘n plek onder die top vier in die stadsliga sal behaal, waar hulle spanne soos Sentraal, Jim Fouché, Oranje en Eunice sal uitdaag.

Etna Pottas, spanbestuurder, sê hul doelwit vir die jaar is om ‘n positiewe omgewing vir spelers te skep sodat elke speler tot haar volle potensiaal kan ontwikkel.

“Sport is daar vir die totale ontwikkeling van die deelnemer. Dit gaan nie bloot oor die wen nie; hoewel wen belangrik is, is dit nie die alfa en omega nie. Kinders ondergaan karaktertoetse en leer meer oor die lewe. Hulle leer om onder druk te funksioneer, om saam te staan (in goeie en slegte tye), en in die proses besef hulle dat die lewe soms onregverdig is en dat jy nie altyd jou sin kry nie.”

Fichardtpark se voorlopige bepalings vir 2024:

  • President Steyn Sportdag: 24 Februarie
  • Hoërskool Fichardtpark Sportdag: 2 Maart
  • Wesgrow-liga t. Goudveld: 12 Maart
  • Wesgrow-liga t. Voortrekker: 16 Maart
  • Toer na AFFIES: 24 – 27 Maart
  • Wesgrow-liga t. Jim Fouché: 6 April
  • Wesgrow-liga t. Sentraal: 20 April
  • Wesgrow-liga t. Diamantveld: TBC
  • Wesgrow-liga t. Witteberg: 13 Julie
  • Wesgrow-liga t. Trio: 20 Julie
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.