Duineveld maak skoonskip teen Uppies in Classic Clash
Hoërskool Duineveld het hierdie naweek tydens die FNB Classic Clashes teen Hoërskool Upington as oorwinnaars uit die stryd getree na ‘n uitstekende vertoonvenster van topvlak-netbal met ‘n telling van 42-25.
Duineveld behou egter hul titel nadat hulle in 2022 ook as kampioene van die baan afgestap het, en hul vaardigheid en konsekwentheid het verseker dat hierdie span vir die vierde keer met die titel kan spog.
Duineveld het ook met die louere in 2017 en 2018 teen Upington weggestap en in 2019 het die twee spanne gelykop gespeel.
Een van die sleutelfaktore in Duineveld se sukses was die indrukwekkende vertonings van hul twee doelskieters, Abrielle de Witt en Joane Visser. Albei spelers het deurgaans hoë doelpersentasies gelewer, wat aansienlik tot hul span se sukses bygedra het.
Sylene Terblanche, ‘n talentvolle netbalspeler van die wenspan, het Saterdag haar 100ste wedstryd vir die span gespeel.
Dit was ‘n groot mylpaal vir Sylene, en sy het nie teleurgestel en haar alles gegee met puik senter afgooie wat haar span in staat gestel het om baie aanvallende netbal te kon speel. Boonop het sy talle onderskeppings gemaak wat gehelp het om die wedstryd in haar span se guns te draai.
Haar aangee na die doele was ook uitstekend en het verseker dat haar span regdeur die wedstryd mededingend gebly het.
Ten spyte daarvan dat die Uppies die eerste vier doele aangeteken het, het Duineveld egter gou ingehaal en die wedstryd daarna oorheers.
Hulle doelwit was om elke kwart te wen, en hulle het hul plan foutloos uitgevoer en die oorwinning oor hul teenstanders verseker.