Dis van nou af reg of weg
Ná vandag se halfeindstryde in die onderskeie streke se ligas vir grootskole, sal die vernaamste rolspelers in vanjaar se Beeld Noordvaal Trofee bekend wees.
Die Hoërskool Klerksdorp, verlede jaar se kampioen, moet Potchefstroom Volkskool op sy tuisveld troef om sy plek in die uitspeelwedstryde te verseker.
In die Luiperds se ander uitspeelwedstryd draf die onoorwonne Potchefstroom Gimnasium, teen Lichtenburg uit. Gimmies het Liggies verlede week in die laaste ronde van die liga met 44-28 verslaan.
■ Oos-Moot, die gunsteling om as kampioen van die Blou Bulle gekroon te word, moet eers oor sy voorlaaste hekkie teen Pretoria-Noord kom. Oos-Moot was met 29-14 baas in die twee spanne se ligawedstryd.
Die Hoërskool Tuine het ’n appeltjie met Overkruin in die ander halfeindstryd te skil. Die ligawedstryd tussen die twee spanne was op ’n mespunt gebalanseer toe Tuine tien minute voor die einde ’n geelkaart gekry en Overkruin met 24-11 geseëvier het.
■ Die Valke se halfeindronde vind op Dr. Malan in Meyerton se veld plaas. Transvalia van Vanderbijlpark het die moeilike taak en sê Hugenote van Springs die stryd aan. Transvalia het verlede jaar in die Beeldtrofee-eindstryd teen Klerksdorp die knie gebuig.
In die Valke se ander halfeindstryd pak Heidelberg Volkskool en Oosterlig mekaar.
■ In die Pumas se liga sal daar vanjaar ’n nuwe kampioen gekroon word. Ligbron van Ermelo, wat die gasheer van die halfeindronde is, sê Secunda die stryd aan, terwyl Volksrust en Piet Retief mekaar in die ander halfeindstryd pak.
■ Frikkie Meyer pak op sy tuisveld in Thabazimbi vir Ben Vorster van Tzaneen, terwyl HTS Tom Naudé die Hoërskool Pietersburg pak.
■ In die Leeus se liga is daar net een halfeindstryd. Die Hoërskool Randburg pak Dinamika in dié kragmeting op sy tuisveld. Dit beloof om ’n klipharde stryd te wees met Randburg wat die wedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar met 15-6 gewen het.
Die wenner sal teen Linden in die eindstryd speel. Helpmekaar het reeds as die Leeus se naaswenner deurgedring.
■ Bepalings:
Blou Bulle by Oos-Moot – 11:10: Hoërskool Tuine t. Overkruin; 12:30: Oos-Moot t. Pretoria-Noord.
Leeus by Hoërskool Randburg: 11:15: Randburg t. Dinamika.
Limpopo by Frikkie Meyer (Thabazimbi) – 13:40: HTS Tom Naudé t. Hoërskool Pietersburg; 15:00: Frikkie Meyer t. Ben Vorster.
Luiperds by Potchefstroom Gimnasium – 14:20: Hoërskool Klerksdorp t. Potchefstroom Volkskool; 15:45: Potchefstroom Gimnasium t. Lichtenburg. Pumas by Ligbron – 13:20: Volksrust t. Piet Retief; 14:40: Ligbron t. Secunda.
Valke by Dr, Malan (Meyerton) – 12:20: Hugenote (Springs) t. Transvalia; 13:40: Heidelberg Volkskool t. Oosterlig.




