SuperSport Schools Plus

Die Wilgers en Vryburg deel die kroon van Afdeling 3

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-21 Tags: , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

‘n Gelykop-uitslag in ‘n eindstryd los meestal meer vrae as antwoorde in spelers en hul afrigters se gedagtes. Wat kon ons anders doen, wat kon ek anders tydens die wedstryd gedoen het – dalk moes ek liewers lyn toe geskop het, pale toe geskop het of die bal laat loop het.

Dit is alles vra wat mens nog jare na so ‘n gelykop-uitslag mee worstel. Die Wilgers en die Hoërskool Vryburg moes die louere deel na die twee spanne met 15-elk gelykop in die eindstryd van die Noordvaaltrofee se Afdeling 3 op eersgenoemde se tuisveld in Pretoria gespeel het.

Die pad terug vir Vryburg sou ook langer terug gewees het, as wat dit sou wees indien hulle slegs een punt meer op die telbord kon aanteken.

Die Wilgers se woelige haker, Tian Joubert, was weer ‘n handvol en het twee keer die doellyn oorgesteek. Hy het amper ‘n driekuns aan drieë voltooi maar het met een poging die bal net kort geplant waarna hy dit aangeslaan het.

Joubert se tweede drie met minder as ‘n minuut oor op die telbord het seker gemaak dat die White Sharks ook een fin op die trofee kon kry. Voorlangs was die flank Ajay Lottering ook weer woelig en is na afloop van die wedstryd as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Lottering se tweelingbroer, De Wet Lottering, sal volgende week in die eindstryd van die Noordvaal se Beker-kompetisie ook ‘n geleentheid kry om dalk te voel hoe om die trofee omhoog te hou.

De Wet sal op haker vir Garsfontein uitdraf wat in die eindstryd teen Monument in Krugersdorp te staan sal kom.

Die Wilgers se binnesenter, Kako Mokoena, was ook weer uitstaande en het veral met sy balverspreiding uitgeblink. Die heelagter, Joshua Louw, was ook danksy sy veilige hande en rustigheid onder druk vir sy span goud werd.

Vryburg se binnesenter, Hanco Halgryn, was uitstaande. Hy was sonder twyfel sy span se beste speler op die dag.

In die laaste beweging van die wedstryd het Vryburg se linkervleuel, Leon Kgathlane, amper die wendrie gaan druk, maar uitstekende verdediging deur Die Wilgers het hom by die kantlyn by die hoekvlag uitgeduik.

Puntemakers: 

Die Wilgers 15 (3) – Drieë: Tian Joubert (2). Doelskop: Armand Griessel. Strafdoel: Griessel. Hoërskool Vryburg 15 (10) – Drieë: HJ Kruger, Jan Espag. Doelskop: Kruger. Strafdoel: Kruger.

Ander spanne: 

o.16: Linden 25, Riebeeckrand 22.

o.15: Frans du Toit 16, Hoërskool Sasolburg 15.

o.14: Standerton 14, Bergvlam 12.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.