SuperSport Schools Plus

Bultfontein wenner van eerste Colt-liga titel

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-09-02

Guilliam Viljoen

 

DIE eerste rugbyspan van die Hoërskool Bultfontein is die eerste houer van die Kovsiestreek-kompetisie se Colt-liga. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.

Bultfontein se jong agtsteman, GJ van Eeden het ‘n driekuns aan drieë in sy span se sege van 29-10 oor die Hoërskool Sandveld van Wesselsbron in die eindstryd op Shimlapark behaal. Die kampioen het rustyd reeds 24-3 voorgeloop, maar dinge het nie so maklik verloop soos die telling dalk mag aandui nie.

Die span se vaskopstut, Brian van Bosch het voorlangs saam met die flank Guilliam Viljoen hulle span se fisieke aanslag gelei. Van Bosch het in die los gewoel en elke keer wanneer hy die bal onder die arm vasgeknyp ‘n hele paar verdedigers laat bontstaan. Hy het ook nie sy werk in die skrums en losgemale agterweë gelaat nie. Viljoen was lasting by die afbreekpunte en het telkemale omgekeerde besit verseker. Hy het ook in die los gewoel en is vir sy blink spel met ‘n drie beloon.

Agterlangs was Bulties se senterpaar Arno Taljaard en Erik Helm ysters.

Daar is min spanne met soveel durf as die manne van Sandveld. Daar was nie een oomblik in die kragmeting wat dit geblyk het om hulle moed wil opgee nie. Die span het selfs in die tweede helfte op ‘n stadium met slegs 13 spelers klaargekom want die flank Michael Fulton en stut Lusapho Mabele het albei geelkaarte van die skeidsregter Hendrik Smit ontvang. Bultfontein kon egter steeds net vyf punte via Viljoen se drie in dié helfte aanteken.

Die beste vertoning deur ‘n speler in die kragmeting het waarskynlik aan die skrumskakel van Sandveld, Donald Grant behoort. Hy het Bultfontein langs die skrums en losgemale besig gehou. Fulton het met sy terugkeer van die koelkas sy span se enigste drie gedruk. Hoewel die agtsteman Reinhardt Lennox en senter Johan Fick ook uitstaande vertonings vir die verloorspan gelewer het, verdien elk van die span van Wesselsbron se spelers ‘n hengse klop op die skouer.

Puntemakers:

Hoërskool Bultfontein 29 (24) – Drieë: GJ van Eeden (3), Andrich Olivier, Guilliam Viljoen. Doelskoppe: Van Eeden (2). Hoërskool Sandveld 10 (3) – Drie: Michael Fulton. Doelskop: Monwabesi Mexico. Strafdoel: Mexico.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.