SuperSport Schools News

Bulle en Leeus beindruk op Noordvaal Bondedag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-06-26

Die drie nasionale skolekeurders asook die twee SA Skole-spanne se breiers sal na hul bywoning van gister se jaarlikse Noordvaal Bondedag op Loftus Versfeld hier heelwat rede het om te glimlag.

’n Hele paar spelers sou ’n regmerkie of twee ekstra voor vanjaar se 53ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole volgende maand in Durban in die notas van die drie keurders Nollie de Beer, Johan Calitz en Gerald Pyoos verdien het.

Die SA Skole-span se breier, Sean Erasmus, asook die naasbestes se breier, Lance Sendin, het ook uit die Wes-Kaap die Bondedag bygewoon.

Die gasheer, die Blou Bulle, het meetal danksy ’n indrukwekkende eerste helfte in die hoofwedstryd vir KwaZulu-Natal met 38-10 die loef afgesteek. Die Ligbloues het met die omdraaislag reeds ’n voorsprong van 31-10 geniet.

Die span se veelsydige voorspeler Ryno Pieterse het die veld vol gespeel. Pieterse is ewe gemaklik op slot as op sy voorkeurposisie van flank. Agterlangs het die senter Louritz van der Schyff gewys dat hy vanjaar ’n sterk aanspraakmaker op ’n plek in die nasionale skolespan gaan wees.

Vir die Piesangboere het sy haker, Dylan Richardson, moedig probeer.

Die Goue Leeus en die Griffons was in ’n opwindende tweestryd gewikkel wat 93 punte in die 60 minute opgelewer het. Die Leeus het met 53-40 koning gekraai.

Die wenspan se linkervleuel, Maxwell van Louw, het ’n driekuns aan drieë behaal in ’n wedstryd wat propvol aksie was.

Dit was veral die aanvallende spel van die senter Wandisile Simelane en die heelagter, Chuiner van Rooyen, wat die Perses se verdediging probleme besorg het.

Die Perses se skrumskakel, Richman Gora, het self met sy flinke voetwerk ’n hele paar verdedigers na lug laat gryp. Hy en die vleuel Andrew Kota was aan die spits van die meeste van die Griffons se aanvallende bewegings.

Die Vrystaat sal dankbaar wees dat hy met 27-24 as oorwinnaars uit die stryd in sy wedstryd teen die Blou Bulle se Akademie-span kon tree in ’n kragmeting waarin hy eintlik niks gehad het om te wen nie, maar alles om te verloor.

Die Ligbloues het met die omdraaislag ’n voorsprong van 17-10 geniet. Die Vrystaat het in die tweede helfte sy eerstekeuse skrumskakel, Rewan Kruger, stut en kaptein, Gideo Beukes, en die slot Jaco van Tonder op die veld gestuur wat die gang van die wedstryd in sy guns geswaai het.

Buiten die trio se impak het die senter Rikus Pretorius soos gewoontlik skitterspel gelewer. Die Akademie-span se afrigters sal veral tevrede met hul span se vertonings in die skrums voel.

Die Pumas behoort vanjaar sy wendroogte wat sedert 2013 se Cravenweek in Polokwane heers op vanjaar se toernooi te verbreek. Hulle het die Valke met 32-19 gemaklik ore aangesit.

Die Valke het nog baie werk oor voor vanjaar se Cravenweek. Dit was slegs die span se heelagter, Martin Steyn, wat tevrede met sy vertoning na gister se geploert kan voel.

Vir die Pumas het sy flank Pretorius en die skrumskakel, Jaco Joubert, met hul spel beïndruk.

Die Luiperds moes vasklou in die tweede helfte aan sy voorsprong van 27-7 wat hy in die eerste helfte oor die Limpopo Blou Bulle opgebou het om uiteindelik met 32-26 as oorwinnaars van die veld te stap.

Limpopo se terugvegpoging is deur die plaasvervanger-losskakel, Wernich Kachelhoffer, aangevuur. Die span het drie verdoelde drieë gedruk om slegs met ’n enkele punt met 26-27 agter te loop. Die Luiperds se heelagter, Gerhard Fourie, het met drie minute oor in die kragmeting oorgeduik om die druk op sy span te verlig.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.