SuperSport Schools Plus

Boishaai sal op sy hoede vir uitgeslape Kwaggas wees

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-04-04

NewsGPaarlBoishaaiDie Hoër Jongenskool Paarl sal Saterdag sy keer in die Brugstraat-stadion in die Paarl teen die Hoërskool Outeniqua moet ken. Die wedstryd word regstreeks op DigiTV.co.za uitgesaai. 

Die Kwaggas het nou wel nog net een sege sover op sy belt vir 2019, maar die span van George het genoeg gedoen in sy nederlae teen Garsfontein (24-28) en Affies (20-27) om nie net die twee spanne van die Jakarandastad behoorlik die skrik op die lyf te jaag nie.

Die Kwaggas is sonder twyfel ‘n omgesukkelde span wat nog ‘n hele paar skole se afrigters slaap sal kos. Die span het in Abré Minnie ‘n uitgeslape afrigter wat gewis ‘n paar taktiese planne vir Saterdag in plek sal hê. 

Boishaai sal weens sy tuisveldvoordeel steeds as die gunstelinge op die veld draf. Die span van die Paarl was nog nie vanjaar aan die verloorkant nie. Hy het wel tydens die Noord/Suid-toernooi in Pretoria met 20-elk gelykop teen Helpmekaar-kollege gespeel. 

Minnie wat op sy dag Griekwas se agterhoede gebrei het en self ook die middelveld in sy speeldae vir die Poubloues beman het, se seun met dieselfde naam is die Kwaggas se skrumskakel en onderkaptein. 

Wat vanjaar se Outeniqua-span ‘n ekstra X-faktor gee is die feit dat hy ‘n paar hardebaarde in sy agttal het. Die span se voorry Zander Bezuidenhout, Leon Volschenk en Henry Tromp sal menigte spanne se skrums op die agtervoet dwing. Bezuidenhout ook ‘n derduiwel in die los, terwyl Volschenk en Tromp nooit te ver van die aksie af is nie. 

Tromp is die seun van die voormalige Springbok-haker met dieselde naam. Tromp sr. het die Springbokke in 1996 in vier toetse verteenwoordig. Tromp jr. se oupa Jan Tromp is ‘n legende in die destydse Wes-Transvaal en het ook slot vir die Junior Springbokke gespeel. Henry Tromp sr. se broer, Kleinjan Tromp het ook vir die Leeus en Wes-Transvaal (deesdae Luiperds) op slot uitgedraf.  

Paarl Boishaai het natuurlik ook ‘n bekende se seun in sy span. Die Prins van Vleuels, Carel du Plessis, se jongste seun, Riis du Plessis, beman die laaste vesting vir Boishaai. Du Plessis sr. het die Springbokke in 12 toetse verteenwoordig. 

Boishaai se sleutelspeler is sy agtsteman, Gideon van Wyk. Boishaai sal hoop dat hy met die bal onder die arm hom op gereelde grondslag oor die voordeellyn sal kry. Die flank Cameron Hanekom en voorryman Rynhardt van Rijnsburger sal ook hier ‘n ondersteunende rol vertolk. 

Boishaai se afrigtingspan het na die Noord/Suid-toernooi ‘n paar skommelinge ondergaan David Sadie sal saam met Peter Engledow die eerstespan se leisels vashou. André Tredoux wat Engledow se hulpafrigter verlede maand was rig nou die o.16-span af. 

Tredoux het hom verlede jaar by Paarl Boishaai aangesluit vanaf die Docomo Red Hurricanes van Japan. Engledow is verlede jaar as Sean Erasmus se opvolgers as hoof van rugby by Boishaai vanaf Griekwas aangestel. 

Die Kwaggas kon laas in 2013 daarin slaag om Boishaai te troef. Hulle was toe met 45-36 in ‘n drieëfees op Brugstraat in die Paarl baas. In sy geledere was spelers soos Duhan van der Merwe (Edinburgh), Warrick Gelant (Blou Bulle) en Dewald Human (Blitsbokke). 

Van der Merwe het twee van sy span se drieë gedruk, terwyl Gelant met ses doelskoppe en ‘n strafdoel 15 punte tot sy span se totaal bygedrae het. In Boishaai se geledere op daardie dag was die Springbok-voorryman Thomas du Toit.  

Die kragmeting tussen die o.14-spanne is ook nie een om mis te loop nie. Die Kwaggas se o.14-span word reeds as een van die bestes indien nie die beste o.14-spanne in die land gereken. Paarl Boishaai het op hul beurt weer in die flank Divan Fuller ‘n plettervatter wie se duikslag vroeër vanjaar tydens die Kwagga-week viral gegaan het. 

Die spanne is: 

Hoër Jongenskool Paarl: 15 Riis du Plessis, 14 Rickus Jonck, 13 Quan Horn, 12 Tyler Bocks (kaptein), 11 Javier Farmer, 10 Kian Meadon, 9 Wian van der Sandt, 8 Gideon van Wyk, 7 Niel Venter, 6 Cameron Hanekom, 5 Jade Hendricks, 4 Evan Roode, 3 Sebastian Lombard, 2 Allister Williams, 1 Rhynhardt Rijnsburger.

Hoërskool Outeniqua: 15 Curtley Smith, 14 Casten Michaels, 13 Gerhard Ackerman, 12 Tinsley Stuurman, 11 Dillan Pieterse, 10 Matthew Thorne,  9 Abré Minnie, 8 Bennett Nortjé (kaptein), 7 Jandré le Roux, 6 Francois Breytenbach, 5 Dean Malherbe, 4 Corné Struwig, 3 Henry Tromp, 2 Leon Volschenk, 1 Zander Bezuidenhout. Plaasvervangers: 16 Johan Jordans, 17 Lawrence Victor, 18 Schalk Vermeulen, 19 Jay-Jay Snyman, 20 Philip Fouché, 21 Chadley Josias, 22 Ayden Booysen, 23 Keanu Lindoor. 

Die bepalings: 

13:00o.19APaarl Boys’ High vs Outeniqua DigiTVStacked1
11:30o.19BPaarl Boys’ High vs OuteniquaDigiTVStacked1
10:10o.19CPaarl Boys’ High vs OuteniquaDigiTVStacked1
09:00o.16APaarl Boys’ High vs Outeniqua DigiTVStacked1

 

Ander Wes-Kaapse bepalings: 

13:00Paarl Boys’ HighvsOuteniquaDigiTVStacked1
12:10Dioecesan CollegevsPaarl Gimnasium 
12:15Rondebosch Boys’ HighvsPaul Roos Gimnasium 
11:55StellenbergvsBrackenfellDigiTVStacked1
12:00DurbanvillevsSACSDigiTVStacked1
12:30Oakdale LandbouvsHTS DrostdyDigiTVStacked1
12:00Boland LandbouvsWynberg Boys’ High 
12:30DF MalanvsParel Vallei 

[powr-comments id=”477c5120_1554452179618″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.