SuperSport Schools Plus

Boishaai neem Kiwi-wraak; Gimmies looi leeutemmers


NewsGRossBraudeDie Hoër Jongenskool Paarl se rugbyspan sal dié skool se Wêreld-skolefees ter viering van sy 150ste bestaansjaar met ‘n tikkie suur by die soet onthou.

Boishaai kon daarin slaag om wraak teen Christchurch Boys’ High van Nieu-Seeland in die hoofwedstryd hier te neem deur met 25-7 as oorwinnaars van die veld te stap.

Voor die fees het Boishaai slegs een keer sedert die begin van die 2015 seisoen die knie gebuig. Dit was verlede jaar teen die einste Christchurch Boys’ High (38-36) op toer verlede jaar deur Nieu-Seeland.

Die suur sal van die Paarliete se eerste nederlaag op Suid-Afrikaanse bodem teen die Jaquares (19-10) sedert 2014 vroeër tydens die fees wees.

Boishaai se heelagter, Riis du Plessis, het elke keer gevaarlik teen die Nieu-Seelanders gelyk wanneer hy in besit geplaas is. Hy is die seun van die Prins van Vleuels, Carel du Plessis.

Die span het ook die oud-Bok Fritz van Heerden se seun Emile op slot, wat self gister in die los gewoel het. Die span se agtsteman, Evan Roos, ‘n blink vertoning met twee drieë afgerond.

‘n Hele paar van Grey-kollege se teenstanders sal nie lekker slaap oor die voortuitsig om die span van Bloemfontein te pak na afloop van die Wêreld-skolerugbyfees hier nie.

Grey het gister geen probleme ondervind om Hartpury College van Engeland met 60-0 te verniel nie. Hartpury College se agtsteman, Joe Howard, is deur die skeidsregter, Nathan Swartz, in die 12de minuut met ‘n rooikaart van die veld gejaag. Dit het die besoekers se saak verder besleg. Grey se Deon le Roux is met ses minute se speeltyd ook deur Swartz na ‘n hoogvat van die veld gejaag.

Grey se vleuel Ian Small-Smith het ‘n blink vertoning gelewer. Hy het ‘n driekuns aan drieë behaal danksy die feit dat hy elke geleentheid om te gaan druk aangegryp het.

Die flank De Wet Marais sal indien hy op sy vertonings tot dusver voortbou moeilik uit vanjaar se SA Skole-span gehou word. Die skakelpaar, Ross Braude en Zander du Plessis, was die groot planmakers agterlangs.

Paarl Gimnasium se span sal breed glimlag na sy sege van 38-36 oor die Jaquares van Argentinië. Gimmies se afrigters, Pieter Rossouw en Helmut Lehmann, het ‘n takties uitstekende wedstrydplan in plek gehad om die besoekers uit te oorlê.

Die feit dat Gimmies ook sy tweede span in sy eerste wedstryd van die toernooi kon inspan om die Rhinos van Amerika met 84-7 te troef, het gehelp dat sy eerstespan vars was na hy ook tydens die vakansie op die Noord/Suid-toernooi in aksie was.

Veral die feit dat Boishaai sy eerste nederlaag op Suid-Afrikaanse bodem sedert 2014 Woensdag teen die Jaquares (19-10) sal Gimmies vroeë hoop vir vanjaar se interskole gee.

Gimmies se flank Dean Nieuwoudt was uitmuntend en het die Jaquares letterlk en figuurlik uit hulle tokse geduik.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het ‘n toer beleef wat hy gou van sal wil vergeet. Die enigste positief wat Affies uit sy sege van 17-5 oor die AP Dragons kan neem is die feit dat hulle as oorwinnaars van die veld gestap het.

Hilton College se heelagter, Gareth Schreuder, het 25 van sy span se punte in sy oorwinning van 78-19 oor die Rhins aangeteken. Hy het een keer die doellyn oorgesteek, sewe van sy span se drieë verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag.

Die flank, Josef Elphick, het ook ‘n driekuns aan drieë vir Hilton behaal.

Transvalia se agtsteman, Raynardt Nel, was gister in die sewende hemel na sy span se slagting van 106-5 teen HTS Daniël Pienaar van Uitenhage tydens die Noord-Suid Derby in Middelburg. Nel het ‘n ongelooflike sewe keer die doellyn oorgesteek.

Hy speel gewoontlik haker vir Transvalia, maar het duidelik die ekstra vryheid op agtsteman geniet. Die span van Vanderbijlpark het teen rustyd met 36-5 voorgeloop en in die tweede helfte kon die Tiere van HTS Daniël Pienaar nie meer al die gate toestop nie.

Die hoogtepunt van die Noord-Suid Derby wat vanjaar ter viering van die Hoërskool Middelburg se eeufees is, sal die kragmeting tussen Transvalia en HTS Drostdy se Donkies wees. Albei spanne is nog onoorwonne en kan vanjaar saam met die groot honde blaf. Die Donkies het Marais Viljoen met 59-14 kaf gedraf.

In Johannesburg het St Stithians College danksy ‘n reuse strafdoel deur sy losskakel, Deon Fourie, in die doodsnikke ‘n sege van 41-38 oor St John’s College gebuit. Fourie het die bal van 60 meter oorgeklits.

Die Hoërskool Oos-Moot van Pretoria is vir die derde keer as kampioen van die grootste skolerugbyweek ter wêreld, die Mauritz Hansen-week in Mookgopong, gekroon.

Oos-Moot het Witteberg van Bethlehem gister in ‘n spannende eindstryd met 28-26 verslaan. Die span van die Jakarandastad het ook in 2015 en 2016 die kroon gedra.

AL DIE UITSLAE

WÊRELD-SKOLEFEES

Grey-kollege 60, Hartpury College 0; Affies 17, AP Dragons 5; Paarl Gimnasium 38, Jaquares 36; Hilton College 78, Rhinos Rugby 19. 

NOORD-SUID DERBY 

Transvalia 106, HTS Daniël Pienaar 5; HTS Drostdy 59, Marais Viljoen 14; Kearsney College 36, Hoërskool Middelburg 17.

GLENWOOD FEES 

Montana 44, Louis Botha 17; Jim Fouché 37, Centurion 29; Midstream College 43, Ligbron 31; Goudveld-Hoërskool 22, DF Malan 22; Grey-kollege III 24, Potchefstroom Volkskool 20. 

SUIDKUS-TOERNOOI 

Nico Malan 38, Wonderboom 9; Sentraal 36, Bergsig Akademie 7.

MAURITZ HANSEN-WEEK 

Oos-Moot 28, Witteberg 26; Ellisras 20, Hoërskool Tuine 14; HTS John Vorster 27, Hans Strijdom 21; Lydenburg 43, HTS Witbank 7; Piet Potgieter 28, Pionier 14; Hugenote (Springs) 33, Northcliff 10. 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.