SuperSport Schools Plus

Bere se beste kans in ses jaar vir sege op Ras van Rooyen

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-07-26 Tags: , , , ,

FOTO: Monya Lombard/Actionpix

Luann Olivier en die Bere-span trek op na Krugersdorp met een doelwit voor oë, en dit is om vir die eerste keer in ses jaar daar oorwinning te proe.

Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) of Kanaal 216

Hoërskool Garsfontein meet Saterdag op die Ras van Rooyen in Krugersdorp kragte met Hoërskool Monument se Wit Bulle in ‘n belangrike bepaling van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

Hierdie tradisionele derby het oor die jare gesorg vir uitstekende rugby en naelbyt-stryde, met die slag van 2015, in Pretoria, sekerlik die beste. In daardie kragmeting het die Garsies ‘n  agterstand van 26 punte in die laaste 10 minute uitgewis om die Monumentare te troef.

Toe was Monnas se huidige direkteur van rugby, Tjaart van der Walt, nog aan die stuur van Garsfontein se rugbyprogram.

Vanjaar is die Garsies se beste kans in ses jaar om die Krugersdorpers wéér op hul tuisveld te verslaan. In 2018 het dié spanne drie keer kragte gemeet, met Monnas se Wit Bulle wat twee keer, met 68-31 en 45-14, koning gekraai het, en die Bere wat met 49-39 die pyp gerook het in Krugersdorp.

Daarna kon die Bere eers vyf jaar later, in 2023, vir die Wit Bulle onderkry, toe hulle met 39-31 tuis geseëvier het.

‘n Sege hierdie Saterdag sal ook super spesiaal wees vir Bere-breier, Johan du Plessis, wat Saterdag vir die 102de keer die leisels as afrigter opneem.

Albei spanne beleef tot dusver vanjaar ‘n strawwe seisoen, met die Pretorianers wat nog slegs vyf van hul 12 wedstryde kon wen en die span van Krugersdorp wat die wa agt uit 14 keer deur die drif kon trek. Hulle is albei ook Hoërskool Nelspruit se mees onlangse slagoffers.

Met die Monumentare se verdediging wat tot dusver ietwat tekort geskiet het en die Bere se agterhoede wat hul ritme begin herwin, beloof Saterdag se stryd om een vir die boeke te wees.

Die Bere se losskakel, Junade Pasensie, is ‘n sleutelfiguur met sy vermoë om die spel te dikteer en die gevaarmanne op linkervleuel, Junaide Stuart, en buitesenter, Ruan Enslin, weg te stuur. Stuart sal in ‘n taai tweestryd met die Wit Bulle se puntemasjien, Ernesto Oersen, gewikkel wees.

Voorlangs kan daar uitgesien word na ‘n armdrukstryd tussen die oopkantflanke. Die tuisspan se Jamaal Feldman is bekend is vir sy  begeesterde barslopies, terwyl die besoekers se Stephan Pretorius, nes Feldman, ‘n bedreiging inhou met die bal in hand, veral in gebroke spel.

Die tuispan sal ook hul keer moet ken wanneer die besoekers se agttal hul dryfmale aan die gang kry. Dit is waar Garsies se krag lê en waarmee hulle menige teenstander al gekasty het.

Die spanne:

Hoërskool Monument t. Hoërskool Garsfontein om 13:45 in Krugersdorp

Monument (moontlik): 15 Caylum Schooney, 14 Kealan Milton, 13 Jason Joubert, 12 Theuns du Plooy, 11 Ernesto Oersen, 10 Cruz La Moer, 9 Hanno du Toit, 8 Vincent Roberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Luhan Swart, 4 Jacques Botha, 3 Jeandre Marais, 2 Keenan Myners, 1 Wikus Meyer.

Garsfontein: 15 Handre Maree, 14 Brooklyn Newman, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Stuart, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Aiden King, 7 Thinus Oosthuizen, 6 Stephan Pretorius, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.

Skeidsregter: Hernus Coetzee

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.