SuperSport Schools Plus

Arende, WPNV XV-tal en Blou Bulle maak stem dik op eerste dag van VKB-week

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-06-28 Tags:

VKB

Die Vrystaat Arende, Blou Bulle en die Westelike Provinsie se Noordelike Voorstede (WPNV XV-tal) het hul spierde behoorlik op die eerste dag van die VKB-week (vir stedelike spanne) in Reitz gebult.

Die WPNS XV-tal het die Lynx met 39-3 verslaan met die agtsteman, Schalk-Willem Engelbrecht, wat ‘n driekuns aan drieë behaal het.

Die wenspan se buitesenter, Stephanus Andrews, was ook op sy stukke en is vir sy vertoning met die toekenning as Speler van die Wedstryd beloon.

Die Blou Bulle se skrumskakel, Stephan Brits, het dalk met ‘n Nr. 21-trui op die veld gedraf, maar hy was witarm. Hy het vier keer ‘n draai agter die doellyn in sy span se oorwinning van 37-21 oor KwaZulu-Natal gemaak.

Hy is ook dan as Speler van die Wedstryd aangewys. Die Ligbloues sal in hul tweede wedstryd teen die Barbarians te staan kom.

Die Vrystaat Arende het die Limpopo Blou Bulle met 62-20 kaf gedraf. Die wenspan het teen rustyd reeds daarin geslaag om ‘n gerieflike voorsprong van 33-15 op te bou. Sy skrumskakel, Jadon Roodt, het self ‘n driekuns aan drieë behaal.

Die Arende kom in sy volgende wedstryd teen die WPNS XV-tal te staan.

Die Barbarians het danksy die giftige skopskoen van sy vaskopstut, Pieter Reynecke, daarin geslaag om die Diamantve met 23-19 te troef. Die Diamante het drie drieë teenoor die Barbarians se twee drieë gedruk, maar Reynecke se twee doelskoppe en drie strafdoele het die wa deur die drif getrek.

Puntemakers:

WP Noordelike Voorstede XV 39 (22) – Drieë: Schalk-Willem Engelbrecht (3), Stephanus Andrews, Kristoff Smith, Janco Groenewald. Doelskoppe: Zander Enslin (3). Strafdoel: Enslin. Lynx 3 (3) – Strafdoel: Dylan Harman.

Blou Bulle 37 (18) – Drieë: Stephan Brits (4), Hanyani Mahlaule, Shaun . Doelskoppe: Divan Viljoen (2). Strafdoel: Justin Tattersall. KwaZulu-Natal 21 (7) – Drieë: JD Jonker, Andrew Wolf, Aphelele Dlamini. Doelskoppe: Reynier van Rensburg (3).

Vrystaat Arende 62 (33) – Drieë: Jadon Roodt (3), Thato Nape, Dylan Calitz, Gerhard Faber, Christiaan Barnard, NJ Els, Justin Pieterse, Alrico Bester. Doelskoppe: Andre Buys (5), GJ Vos. Limpopo Blou Bulle 20 (15) – Drieë: Puti Moleto, Shaun Matthysen, Gavin Smith. Doelskop: Franco van Zyl. Strafdoel: Van Zyl.

Barbarians 23 (16) – Drieë: Cobus Myburgh, Nico van Rensburg. Doelskoppe: Pieter Reynecke (2). Strafdoele: Reynecke (3). Diamante 19 (7) – Drieë: Bokang Mutsi (2), Rudolf Brits. Doelskoppe: Dolf Hohls (2).

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.