Affies netbalspan weer gekroon as Wildeklawer-kampioen
Die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria (Affies) het weer hul staal getoon om vir die tweede agtereenvolgende jaar as wenners van die Absa Wildeklawer-sporttoernooi in Kimberley weg te stap.
Affies het met 26-14 getriomfeer in ‘n harde eindstryd teen Meisieskool Oranje van Bloemfontein.
Hierdie oorwinning dra by tot Affies se indrukwekkende rekord, nadat hulle verlede jaar ook die Wildeklawer-titel verower het deur Hoër Meisieskool Paarl met ‘n telling van 23-16 in die eindstryd te verslaan – dit nadat Affies in 2018 laas die kroon gedra het.
Vanjaar se wedywering tussen Affies en Oranje het reeds Vrydag afgeskop, toe die twee spanne mekaar die stryd aangesê en Affies met 32-22 geseëvier het. Affies het hul plek in die eindstryd verseker deur Hoër Meisieskool Bloemhof te verslaan, terwyl Oranje deurgedring het nadat hulle vir Menlopark geklop het.
Oranje het laasjaar die finaal net-net gemis, nadat Affies vir hulle naelskraaps met 22-21 uitgeskakel het.
Affies het regdeur vanjaar se eindstryd momentum behou en die gaping met elke kwart geleidelik vergroot. Teen die einde van die eerste kwart het hulle ‘n voorsprong van 9-2 opgebou, en daarop voortgebou om met 17-7 voor te loop teen rustyd.
Affies het in geen stadium die voet van die versneller gelig nie en, hoewel Oranje hard terugbaklei het, kon die span van Bloemfontein eenvoudig nie die pas volhou nie. In die derde kwart het die spanne elk vyf doele aangeteken, met Affies wat ‘n stewige voorsprong van 22-11 behou het.
Met ‘n 11-doel voordeel in die laaste kwart, het Affies gefokus en vasberade gebly om uiteindelik ‘n klinkende oorwinning oor Oranje te behaal.
Liane Lochem van Affies het uitsonderlike vaardigheid en strategie op sowel die aanval as verdediging getoon. Die doele, Izelle Grabe en Jamie Matfield, het ook hul kant gebring om tot die span se wenseges by te dra.
Met dié oorwinning het Affies hul oorheersing oor Oranje voortgesit. Die Pretorianers het nou vier uit hul laaste ses kragmetings met Oranje gewen.
Affies het, benewens hul oorwinnings in vanjaar se Wildeklawer-toernooi, ook vir Oranje verslaan tydens die 2019-Interskole in Bloemfontein (34-19) en verlede jaar se Wildeklawer (22-21).
Oranje het oorwinnings behaal in die Interskole van 2022 en 2023, in Bloemfontein en Pretoria, met tellings van onderskeidelik 33-27 en 31-26.
Affies het van meet af by vanjaar se Wildeklawer-toernooi uiters bekwaam te werk gegaan en al hul wedstryde gewen. Hulle het oorwinnings behaal oor Diamantveld (48-18), Rustenburg (37-17), Oranje (32-22), La Rochelle (17-15), Waterkloof (31-16) en Paarl Gimnasium (28-21).
Oranje spog met ses uit agt oorwinnings op die toernooi, met hul enigste nederlae die twee teen Affies.
Hoërskool Menlopark het die derde plek in die toernooi behaal, nadat hulle teen die Hoër Meisieskool Bloemhof geseëvier het met ‘n eindtelling van 27-20. Dié sege is Vrydag voorafgegaan deur ‘n oorwinning van 23-18 oor Bloemhof.
Menlopark het op die eerste dag van die toernooi vir Garsfontein met 31-25 getroef, en ook oorwinnings behaal oor Sentraal en Paarl Girls High met tellings van onderskeidelik 29-11 en 27-19. Op die tweede dag het hulle vir Helpmekaar (24-17) en Durbanville (30-20) geklop.
Hoër Meisieskool Bloemhof het Donderdag gelykop gespeel teen Helpmekaar met 22-22, maar gewen teen Durbanville (28-17) en Garsfontein (26-12). Bloemhof het Vrydag nederlae gely teen Hoër Meisieskool Paarl (21-17) en Menlopark, maar goed herstel om vir Sentraal van Bloemfontein met ‘n telling van 28-22 te troef.