Affies se Ruben bo in skakel-stryd, Grey hol Monnas dronk met 80-tal

PRETORIA. – Die stryd vir wie die nommer tien-trui van die Suid-Afrikaanse Skole-span sal dra is reeds fel aan die gang.
Affies se losskakel, Ruben Pienaar, het gister agter ‘n sterker agttal sake beheer in sy span se sege van 52-26 oor King Edward VII in Johannesburg. KES se losskakel, Vusi Moyo, is een van die vroeë gunstelinge om die nasionale skolespan se generaal te wees.
Die eerste ronde het egter aan Pienaar behoort wat met aanvallende spel beïndruk het. Moyo se skopvoet was we look witwarm. Sy stelskopwerk was foutloos en sy lang lynskoppe het Affies se pak voorspelers ‘n hele paar keer omgedraai.
Pienaar het ‘n onderskepdrie van ‘n aangee van Moyo gedruk om die sout nog dieper in die wonde te vryf.
Die twee kom Dinsdag weer teen mekaar te staan wanneer die Blou Bulle en die Goue Leeus se voorlopige Cravenweek-spanne teen mekaar te staan kom.
Die Leeus se spelers sal so ietwat gewond wees met Monument van Krugersdorp wat sy rieme behoorlik met 19-85 teen Grey-kollege in Bloemfontein styfgeloop het.
Die span van die Rosestad gaan nie sommer weer vanjaar verloor nie. In sy losskakel, Alzeadon Felix, het hy ‘n Manie Libbok en op heelagter vir Heinz Stockenström, wat skop soos Percy Montgomery in die 2000’s en aanval soos Monty in die laat 1990’s.
Die skrumskakel, Philip McLaren, is ook vining besig om vir himself ‘n naam te maak. McLaren, Felix en die vleuel Pretorius Ekeji het elk twee van hul span se 13 drieë gedruk. Stockenström het tien daarvan verdoel en ook ‘n draai agter die doellyn gemaak vir ‘n persoonlike bydrae van 25 punte.
Gepraat van SA Skole-kandidate – Paul Roos Gimnasium se kaptein en flank, Riley Norton, het waarskynlik sy beste vertoning van sy skoolloopbaan in sy span se oorwinning van 50-25 oor Wynberg Boys’ High opgedis.
Norton het verlede jaar reeds die SA Skole-spanne vir rugby en krieket gehaal. Hy kan vanjaar dalk die eerste sportman word om albei die spanne aan te voer.
Buiten Norton het die binnesenter, Samuel Badenhorst, ook ‘n blink vertoning met twee drieë afgerond.
Paarl Gimnasium het met 43-35 in ‘n opwindende kragmeting oor Oakdale Landbou koning gekraai. Die span se senter Markus Muller was weer op sy stukke. Die Hoër Jongenskool Paarl het vir Rondebosch Boys’ High met 36-28 verslaan, terwyl Boland Landbou met sy vleuel Enslin Claassen aan die spits vir SACS met 40-27 getroef het.
Dr. EG Jansen van Boksburg se afrigter, Rudi Dames, spog vanjaar met ‘n bulspan, maar hy gaan gewis na vanjaar ‘n paar ekstra gryshare hê.
Sy skitterende buitesenter, Juandré Jacobs, het in die doodsnikke vir ‘n drie oorgedraf om Noordheuwel se harte met 34-30 in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te breek.
Dit het Garsfontein lank geneem, maar dit blyk om die Turkoois Bere uiteindelik in Junaid Pasensie ‘n losskakel het om die span vorentoe te neem. Die Bere het op hul tuisveld vir Menlopark met 90-14 gekarnuffel.
Pasensie se stelskopwerk in die tweede helfte was uitmuntend, terwyl sy aanvallende spel asook hoe hy spel dikteer het rigting aan die Garsies gegee het. Hy het 26 punte tot die oorwinning met twee drieë en agt doelskoppe bygedra.
Waterkloof het na ‘n moeilike kragmeting in Rustenburg met ‘n bonuspunt-sege na die Jakarandastad teruggekeer. Die Klofies was met 45-35 baas.
Die Blou Tornado se slot Stephan de Beer was met sy fisieke spel sonder twyfel sy span se beste speler op die dag. Die skakelpaar, Migael Prinsloo en Dennis Obie, verdien ook ‘n klop op die skouer.
Boonop het die loskopstut, Jean Gouws, die eerste drie van sy rugbyloopbaan gedruk.
Al die uitslae:
SDC NOORDVAAL CUP
Groep 1
Beker: EG Jansen 34, Noordheuwel 30; Waterkloof 45, Hoërskool Rustenburg 35; Garsfontein 90, Menlopark 14; Hoërskool Nelspruit 33, Marais Viljoen 15. Plaat: Oos-Moot 56, Zwartkop 14; HTS Middelburg 35, Montana 7; Hoërskool Klerksdorp 24, Kempton Park 20; Transvalia 31, Hoërskool Middelburg 23. Skild: Wesvalia 36, Hugenote (Springs) 7; Secunda 44, Hoërskool Pietersburg 14; Ben Vorster 29, Jeugland 26; Lichtenburg 24, Heidelberg Volkskool 19. Bowl: Dr. Malan 19, Wagpos 0; Eldoraigne 23, Randburg 17; Potchefstroom Volkskool 24, Merensky 22; Potchefstroom Gimnasium 41, Piet Retief 24.
Groep 2
Blou Bulle: Pretoria-Noord 17, Centurion 14; Bergsig Akademie 50, Wonderboom 23; HTS John Vorster 31, Overkruin 8; Midstream College 40, Hoërskool Tuine 13. Limpopo: Ellisras 20, Ben Viljoen 13; Frikkie Meyer 20, Hans Strijdom 17. Valke: Dinamika 35, Leeuwenhof 10; Oosterlig 48, Hans Moore 27.
Groep 3
Goue Leeus: Allen Glen 24, Riebeeckrand 20; Florida 69, Fochville 0; Bastion 63, Glenharvie 12. Limpopo: HTS Tom Naudé 41, Nylstroom 5. Pumas: Lydenburg 33, Ferrum 28; Standerton 31, Volksrust 20.
Groep 4
Goue Leeus: Bekker 24, Carletonville 18. Limpopo: Northern Academy 47, Louis Trichardt 33; Warmbad 66, Eric Louw 5. Pumas: Morgenzon Landbou 52, Komatipoort 22.
Groep 5
Goue Leeus: Die Wilge 48, Adelaar 3.
KWAZULU-NATAL
Michaelhouse 34, Pretoria Boys’ High 27; Westville Boys’ High 40, Hilton College 26; Northwood 18, Maritzburg College 10; Kearsney College 25, Glenwood 22; St Charles College 28, St Stithians College 20; Durban High School 50, Clifton 0.
NOORDVAAL
Affies 52, King Edward VII 26; Jeppe 67, St John’s College 30; St Charles College 28, St Stithians College 20; St Alban’s College 47, Springs Boys’ High 15; Parktown Boys’ High 29, St Benedict’s College 5; St David’s Marist 16, Northcliff 10; Beaulieu College 29, Stanford Lake College 11.
OOS-KAAP
Grey High School 29, St Andrew’s College 28; Framesby 52, Marlow Landbou 12; Hudson Park 27, Queen’s College 25; Nico Malan 19, Graeme College 7; Kingswood College 54, Muir College 21; Pearson 38, HTS Daniël Pienaar 14; HTS Port Rex 49, Ooskus Gimnasium 6; Selborne College 72, Cambridge 5.
VRYSTAAT
Grey-kollege 85, Monument 19; Jim Fouché 22, Burgersdorp 17; Curro Kathu 61, Daniëlskuil 10.
WES-KAAP
Paarl Gimnasium 43, Oakdale Landbou 35; Paul Roos Gimnasium 50, Wynberg Boys’ High 25; Boland Landbou 40, SACS 27; Hoër Jongenskool Paarl 36, Rondebosch Boys’ High 28; Milnerton 36, Brackenfell 31; HTS Drostdy 52, Swartland 28; Charlie Hofmeyr 12, Hoërskool Stellenbosch 6; Stellenberg 60, Parel Vallei 0; Bosmansdam 41, Collegians-klub 10; Melkbosstrand 14, Tygerberg-klub 10; Labori 13, New Orleans 10.