Top atletiek word die naweek by die Grey/OMS-atletiekbyeenkoms verwag

Dis weer tyd vir die jaarlikse Grey/OMS-atletiekbyeenkoms met 31 skole, 50 spanne en ‘n verstommende 1089 atlete wat by die Mangaung-stadion in Bloemfontein saamtrek.
Sedert die ontstaan van die byeenkoms in 1999 dien dit as ‘n platform waar uitsonderlike atlete oor die jare ‘n nalatenskap gelaat het en het hul Suid-Afrika op die Olimpiese Spele, Statebondspele of senior Wêreldkampioenskap verteenwoordig.
Atlete soos Anneri Ebersohn (Oranje), Wayde van Niekerk, LJ van Zyl, Johan Cronjé, Rynardt van Rensburg, PC Beneke (Grey College), Zeney van der Walt, Yolandi Stander (Affies Meisies), Jacques Freitag, Lehann Fourie, Pieter Conradie (Affies Boys) Dumisane Hlaselo (HTS Louis Botha) en Justine Palframan (Eshowe) het almal rekords opgestel met sommiges wat vandag steeds staan.
Oranje Meisieskool spog egter steeds met vier byeenkomsrekords. Elizna Schultz het in 2000 ‘n rekord opgestel vir die 1 500 m o.14-kategorie, met 04:48.50. Germarie Spershott het in 2019 meegebring en behou steeds die record vir die 300m hekkies o.15-kategorie met ‘n tyd van 44.33.
Charné Wansbury se blitsige naelloop in 2019 in die 200m o.14-kategorie is steeds ‘n rekordtyd van 24.96 en Roline Louw het in 2022 die nuwe rekord in die 100m hekkies o.17-kategorie met 14.15 opgestel.
Grey Kollege stap vanjaar met ‘n jong en dinamiese span op die baan – met slegs drie matrieks.
Ongeag is dit nie ‘n span om te onderskat met top-atlete wat die spogskool gaan verteenwoordig.
Franco le Roux, die skool se Atletiekkaptein, is ‘n blink ster. Sy silwermedalje-oorwinning by vanjaar se SA Skolekampioenskappe in die o19 110m Hekkies is ‘n bewys van sy besonderse vaardigheid en toewyding.
Heinrich van der Wath, wat aan die o19 400m deelneem, het reeds die titel van SA Skolekampioen vir 2023 ingepalm. Hy het ook ‘n silwermedalje vir die 400m Hekkies behaal, wat sy veelsydigheid en vasberadenheid ten toon stel.
Heinrich Theron, die o.17 Vrystaat-kampioen in gewigstoot, het rekords laat spat met ‘n verstommende gooi van 18.75m. Sy rou krag en akkuraatheid maak van hom ‘n krag om mee rekening te hou.
Jurgen Nortje, net 14 jaar oud en in graad 8, maak reeds opslae. As ‘n 800m-atleet hou hy die titels van o15 SA Skolekampioen en o16 ASA-kampioen, wat ‘n blink toekoms in die wêreld van atletiek aandui.
Die byeenkoms sal regstreeks op SuperSport Schools uitgesaai word.