SuperSport Schools Plus

Parkies se Gerber en Van Dyk laat die diskus die praatwerk doen

By Hannes Nienaber , in Athletics | Featured Athletics | News , at 2025-02-22 Tags: , , , , ,

DEWALD ROODT (Affies, 0.15) in aksie tydens die gewigstoot vir seuns o.15 waar hy ‘n silwermedalje verower het. FOTO: Marius Esterhuizen

In die hoogspring vir seuns o.17 tydens die Wildeklawer Pretoria A-Bond was daar soos verwag ‘n hewige tweestryd tussen Taelyn Smith (Menlopark) en Willie van Wyk (Garsfontein). Dié byeenkoms het in die Pilditch-stadion in Pretoria plaasgevind.

Smith het die tweestryd met ‘n sprong van 2.05 meter gewen. Van Wyk het op twee meter oor die lat geseil voordat hy uitgeval het. Smith se wenhoogte is boonop ‘n nuwe byeenkomsrekord.

Die rekord het voorheen agter die naam van Zizwe Khumalo (Garsfontein, 2.00m) gestaan. Khumalo het dié rekord verlede jaar opgestel. Hy het vanjaar weer goud verower toe hy die hoogspring vir seuns o.19 met ‘n sprong van 2.06m gewen het.

Smith het vanjaar al op 2.15m oor die lat geseil.

Daar is ook ‘n nuwe hoogspringer wat tot die voorgrond tydens die byeenkoms getree het. Zwartkop se Thor Myburgh (o.14) het dié nommer in sy ouderdomsgroep met ‘n uitstekende sprong van 1.84m gewen. Hy het hiermee ook Smith se vorige byeenkomsrekord van 1.83m uit die rekordboeke gevee.

Menlopark se Jaco van Dyk (o.15) het in die worpe sy stempel afgedruk. Hy het die byeenkoms as die Junior Victor Lodorum met 1,984 punte afgesluit.

Van Dyk het in die gewigstoot met ‘n beste poging van 19.64m losgetrek. Hy het hiermee op die vorige rekord van Jordan Meyer (Affies) verbeter. Meyer het in 2022 die rekord na 19.33m gerek. Affies se Dewald Roodt het deurgans in Van Dyk se nek geblaas, maar moes op die ou einde met ‘n silwermedalje ondanks ‘n skitterende poging van 19.31m tevrede wees.

Van Dyk het ook in die diskus ‘n nuwe rekord opgestel met ‘n gooi van 62.06m wat aan hom 984 punte op die APE-stelsel besorg het.

Die Parkies se Joshua Gerber het ook ‘n goeie byeenkoms beleef. Hy het in die diskus vir seuns o.16 ‘n beste poging van 60.71m. Dit het die byeenkomsrekord wat in 2022 deur Waterkloof se Wesley Badenhorst (56.47m) in 2022 opgestel is, met meer as vier meter verbeter. Boonop was dit ‘n volle 1,000 punte op die APE-stelsel werd.

Affies se Dewald Bezuidenhout was tweede met self ‘n indrukwekkende poging van 52.54m. Dit was egter in die gewigstoot waar Bezuidenhout tot sy reg gekom het. Hy het die nommer met ‘n beste afstand van 18.62m gewen. Dit is 976 punte op die puntestelsel werd.

Montana se Tiaan Stevens het sy hoërskoolloopbaan met twee goue medaljes in die gewigstoot (16.52m) en diskus (53.69m) vir seuns o.19 afgesluit.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.