Wonderboom sal hoop geskiedenis herhaal homself in eindstryd van Groep 2 in die SDC Noordvaal Cup

Die SDC Noordvaal Cup se Groep 2 trofee sal vanjaar weer by ‘n skool vanuit die Blou Bul-streek staanplek kry.
Midstream College van Centurion sal in die eindstryd teen Hoërskool Wonderboom van Pretoria kragte meet. Die kragmeting skop om 12:30 op Midstream College se hoofveld af.
‘n Eindstryd kan altyd enige kant toe gaan, maar dit is gewoonlik ervaring om onder druk die regte besluite te neem wat deurslaggewend is. Midstream College sal dus met ‘n kortkop as die gunsteling Saterdag op die veld draf.
Die skool se eerstespan is al twee keer in 2022 en 2023 as kampioen van Groep 2 gekroon. Die span se twee afrigters, Henry Verster en Christiaan van der Merwe, sal dus presies weet wat vandag van hul span verwag word indien hy ‘n derde keer as kampioen gekroon wil word.
Die Wonnies sal daarteenstaande vir die eerste keer ooit in die geskiedenis van die Noordvaal-reeks vir ‘n eindstryd aantree. Die span se twee breiers, Etienne Jordaan en Carl Schmahl, sal wel ook ‘n goeie idee hê van wat vandag op hul wag.
Midstream College het die ligawedstryd tussen die twee spanne met 36-30 op Wonderboom se tuisveld vroeër vanjaar gewen. Die eindstryd beloof dus sonder twyfel om vir hope vuurwerk te sorg.
Boonop is daar die feit dat Groep 2 se kampioen van 2024, die Hoërskool Overkruin, ook soos Wonderboom die Noordvaal-reeks as slegs die Bulle se vyfde kwalifiseerder betree het. Die geskiedenis het mos maar ‘n manier om homself te herhaal.
Wonderboom het boonop in die kwarteindronde met ‘n sege van 20-19 die Bulle se kampioen, Hoërskool Centurion, uitgeskakel. Dit nadat hulle tydens die liga met 12-25 teen die Woeries die knie gebuig het.
Wonnies het hul plek in die eindstryd met ‘n sege van 27-24 oor die Hoërskool Alberton in die halfeindronde van die reeks bespreek. Midstream College het op sy beurt vir Brandwag van Benoni met 27-21 in die ander halfeindstryd verslaan.
Die tweestryd tussen die twee spanne se agtstemanne, Louis Verhoef (Midstream College) en Ryan Otto (Wonderboom), behoort vir vele hoogtepunte in die eindstryd te sorg. Albei sal ook voor uitdraf met een van hulle wat Saterdag die trofee sal omhoog hou.
Die spanne is:
Midstream College: 15 Ryan Strauss, 14 Jean Holtzhausen, 13 Yanko Cronjé, 12 Paul Loubser, 11 Estiaan Scheepers, 10 Dian de Villiers, 9 Tommy Pretorius, 8 Louis Verhoef (kaptein), 7 Nic Grobler, 6 Henke Griffioen, 5 Martin van Rooyen, 4 Nathan Judlesohn, 3 Hanno Brits, 2 Jared Nel, 1 Robin Stassen.
Wonderboom: 15 Iwan van Rooyen, 14 Jancu Nel, 13 Carlo Schmahl, 12 Navan Jansen, 11 Christiaan Swanepoel, 10 Kyle dos Santos-Joubert, 9 Barend Bossert, 8 Ryan Otto (kaptein), 7 Nathan Wilke, 6 Jayden Prinsloo, 5 Darius van Loggerenberg, 4 Nolan Lourens, 3 Branden Freemantle, 2 Dian Dreyer, 1 Ethan Cotton.
Afskop: 12:30
Skeidsregter: Seemea Ndlovu (Pumas)
Ander eindstryde:
o.16 – 11:00 – Centurion vs Leeuwenhof Akademie
o.15 – 09:45 – Brandwag (Benoni) vs Leeuwenhof Akademie
o.14 – 08:30 – Wagpos vs Leeuwenhof Akademie
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30