Wilgerivier begin aanslag in 2014 teen Ladybrand
Die Hoërskool Wilgerivier op Frankfort se eerste rugbyspan sal sy verdediging van die Oos-Vrystaatse titel teen Hoërskool Ladybrand in 2014 afskop. Wilgerivier het vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar met die kroon as kampioen van die Oos-Vrystaat weggestap.
Hoërskool Vrede wat vanjaar in die eindstryd teen Wilgerivier die knie gebuig het, sal sy aanslag op dié titel teen Ficksburg begin. Harrismith en Reitz pak mekaar in die ander wedstryd van die eerste ronde, terwyl die Hoërskool Paul Erasmus van Senekal ‘n loslootjie geniet.
Dié skole in die liga het al heelwat bydraes tot Suid-Afrikaanse rugby gelewer. Wilgerivier het die Springbok Friedrich Lombaard en provinsiale spelers soos Coenraad Groenewald, Danie van der Merwe en Inus Kritzinger opgelewer. Boela du Plooy en Anton Pitout het Hoërskool Vrede as hulle alma mater.
Harrismith het die Springbokke De Wet Ras en Klippies Kritzinger opgelewer. Paul Erasmus op Senekal het Toks van der Linde tot die Bokke bygedra, terwyl Stephen Brink ook in dié skool was voor hy na Sentraal in Bloemfontein geskuif het. Die Italiaanse slot en voormalige Cheetah, Corniel van Zyl is ‘n produk van die Hoërskool Ficksburg.
Die halfeindstryde van die liga sal op Vrydag, 25 Julie plaasvind. Die eindstryd word op Vrydag, 1 Augustus beslis. Die Vrystaat platteland se halfeindstryde vind op 9 Augustus plaas, terwyl die eindstryd op 16 Augustus gespeel word. Die kampioen van die plattelandse liga sal die Griffons in die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) verteenwoordig. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie. Wilgerivier was in 2012 die kampioen van dié liga en het vanjaar in die eindstryd teen Landboudal van Jacobsdal sy kroon afgestaan.
Die bepalings:
12 April 2014 – Harrismith t. Reitz; Vrede t. Ficksburg; Wilgerivier t. Ladybrand; 10 Mei 2014 – Harrismith t. Vrede; Ladybrand vs. Reitz; Wilgerivier t. Paul Erasmus; 17 Mei 2014 – Ladybrand t. Vrede; Ficksburg t. Wilgerivier; Harrismith vs. Paul Erasmus; 24 Mei 2014 – Ladybrand t. Harrismith; Ficksburg t. Paul Erasmus; Reitz t. Vrede; 27 Mei 2014 – Wilgerivier t. Harrismith; Ficksburg t. Ladybrand; Paul Erasmus t. Reitz; 31 Mei 2014 – Reitz t. Wilgerivier; Harrismith t. Ficksburg; Paul Erasmus t. Vrede; 7 Junie 2014 – Ficksburg t. Reitz; Vrede t. Wilgerivier; Ladybrand t. Paul Erasmus.