Wege woeker met die wilgerlat tydens die Cape Schools Week
Gysbert Wege, kaptein en bobaas kolwer van die Hoër Jongenskool Paarl, het die wilgerlat tydens die Cape Schools Week geswaai soos geen ander Boishaaier nog voor hom kon nie.
Wege het in sy span se sege van 245 lopies oor Somerset College op Brugstraat in die Paarl ‘n reuse onoorwonne beurt van 240 lopies aangeteken. Hy het slegs 138 aflewerings in sy beurt trotseeer. Sy beurt het 15 sesse en 16 viere ingesluit.
Dit is die hoogste telling nog ooit deur ‘n Boishaai kolwer vir enige van die skool se spanne. Wege het ook nog twee honderdtalle in sy span se drie ander wedstryde tydens die fees van krieket gemoker.
Hy en Lieben Engelbrecht (106*) het ‘n vennootskap van 311 lopies om die derde paaltjie gedeel. Engelbrecht het ook net ‘n skamele 91 aflewerings in sy kolfbeurt trotseer. Die telling van 447/2 in die toegelate 50 boulbeurte was ook dan die hoogste telling nog deur Boishaai.
Liam Vermeulen (63, 73b) het self ‘n stewige bydra met sy vyftigtal gelewer.
Somerset College het 206 lopies in antwoord op Boishaai se reuse-telling gelewer.
Wege het op die eerste dag van die toernooi ook ‘n honderdtal (136) teen Queen’s College in ‘n tydkrieket-wedstryd aangeteken. Die kragmeting het onbelis geëindig.
Erwin Meyer (138) het ook ‘n honderdtal vir Boishaai in die kragmeting aangeteken wat die span tot 367/5 in 63 boulbeurte gehelp het.
Wege (128*) het ook ‘n honderdtal teen Pearson van Port Elizabeth aangeteken. Die span van die Paarl het ook die Cape Schools Week onoorwonne afgesluit.
Beknopte telkaarte:
HJS Paarl 367/5 in 63 bbe (Erwin Meyer 138, Gysbert Wege 136, Liam Vermeulen 53); Queen’s College 188/5 (). Onbeslis.
HJS Paarl 169 in 46 bbe (Brendan Coetsee 40, Gysbert Wege 32, Stefan Breuninger 25); Dale College 130 (Christiaan Burger 4/6, Gysbert Wege 2/14, Juanrico Vorster 2/54). HJS Paarl wen met 39 lopies.
Pearson 217 in 43 bbe (Christiaan Burger 3/16, Juanrico Vorster 3/43, Christiaan Broubon-Leftley 2/50); HJS Paarl 224/4 (Gysbert Wege 128*, Lieben Engelbrecht 35, Liam Vermeulen 25). HJS Paarl wen met ses paaltjies.
Vrydag, 8 Oktober 2021
HJS Paarl 447/2 (Gysbert Wege 240*, Lieben Engelbrecht 106*, Liam Vermeulen 63); Somerset College 206 (Johan Wege 3/54, Stefan Breuninger 2/1). HJS Paarl wen met 245 lopies.