Vorsters pronk in Monties-sege oor Ben Vorster


Hoërskool Montana se Vorster-tweeling, Aiden en Ashton Vorster, het gesamentlik drie keer agter die doellyn in Tzaneen gaan draai in hul span se belangrike wegsege van 41-34 oor Hoërskool Ben Vorster.
Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was ‘n styd van 70 minute wat die skare in Tzaneen vasgenael op die punte van hul stoele gehou het.
Die besoekers van Pretoria het reeds vroeg hul stempel in die vaste fasette afgedruk. Dit was vernaam in die lynstane waar hulle met kragtige dryfmaalbewegings die botoon oor die Buffels gevoer het.
Dit het aan Aiden Vorster, wat weens beserings van oopkantflank na vaskoptstut moes skuif, die geleentheid gebied om tweekeer agter die tuisspan se doellyn te gaan kuier. Broer, Ashton, is later met ‘n vyfpunter van sy eie beloon na ‘n bedrywige vertoning in die yslike stryd voorlangs.
Hoewel aan die verloorkant, was die Buffels se vertoning ook van hoogstaande gehalte. Hulle het volgens hul sterkpunte gespeel en floreer in gebroke spel om self vyf keer die Monties se verdediging te fnuik vir aanskoulike drieë. Losskakel, Shelton-Ray Primo, het ‘n beduidende aandeel hieraan gehad met sy venynige aanvalsvernuf.
Die Buffels se slot en kaptein, Chifu Banda, en agsteman, Tumi Ramohlale, het die besoekers laat brul met hul hoë werkverrigting en kragtige barslopies. Dit was egter nie genoeg om die Monties te stuit nie, nadat hulle die momentum herwin het met twee vinnige drieë kort voor rustyd.
In Secunda het die tuisspan, Hoërskool Secunda, vasgebyt vir ‘n noemenswaardige sege oor die Skild-afdeling se voorlopers, Hoërskool Lichtenburg.
Dit het, soos verwag, ‘n titaniese stryd tussen die twee kookwater-agttalle afgegee. Ten spyte van die afwesigheid van Franko Rossouw, het slot, Mickey Jordaan, en haker, Reinhardt Fourie, die pap dik aangemaak vir die tuisspan voorlangs.
In antwoord daarop, het die Liggies se Cravenweek-losvoorspeler en kaptein, KG Legodi, en slot, Realoboga Ranatshoele, die skote laat klap met woelige vertonings van hul eie.
Dit was egter uiteindelik die skopskoen van Secunda se losskakel, Alonzo Blackenberg, wat die deurslag gegee het. Hoewel hy met ‘n doelskop misluk het, was het sy twee strafdoele die knoop vir die tuisspan deurgehak.
Hoërskool Pietersburg se oopkantflank, Andru de Beer, is as Speler van die Wedstryd aangewys na sy tweekuns en algehele blink vertoning in sy span se sege van 40-25 oor Hoërskool Hugenote van Springs, in Polokwane.
Dié sege het die kat in die duiwehok gegooi, met Hoërskool Piet Retief wat boonop vir die Pietersburg ‘n reuse guns in Piet Retief bewys het deur vir Hoërskool Die Anker met 29-26 te troef, danksy ‘n strafdoel deur Olwethu Shabalala in die doodsnikke, .
Die “ander” Pieties se eerste sege in die Skild-afdeling sou egter nie moontlik gewees het sonder Letho Hlophe, wat deurgedartel het vir ‘n tweekuns aan drieë nie.
Puntemakers:
Montana 41 (24) – Drieë: Aiden Vorster (2), Ashton Vorster, Dixie Sethuga, Juan Theunissen, Dieter Scheepers, Hendrew Schoeman. Doelskoppe: Rubel Bester (3). Ben Vorster 34 (14) – Drieë: Freddie Pinto, Stiaan du Rand, Chifu Banda, Lethabo Sejake, Tumi Ramohlale. Doelskoppe: Shelton-Ray Primo.
Hoërskool Secunda 23 (12) – Drieë: Reinhardt Fourie, Mickey Jordaan, Armand Underhay. Doelsko: Alonzo Blackenberg. Strafdoele: Blackenberg (2). Hoërskool Lichtenburg 20 (7) – Drieë: Realiboga Ranatshoele, KG Legodi, Thato Seabo. Doelskop: Luan Snyman. Strafdoel: Snyman.
Hoërskool Pietersburg 40 (12) – Drieë: Andru de Beer (2), Stephan Jansen van Rensburg, Juan Jansen van Vuuren, Celliers van der Merwe, Armand Venter. Doelskoppe: Ryno Mienie (4). Hugenote (Springs) 25 (7) – Drieë: Anzani Netshiongolwe, Tristan de Beer, Zander Janse van Rensburg, Migael Swart. Doelskop: Yovan Prinsloo. Strafdoel: Prinsloo.
Hoërskool Piet Retief 29 (19) – Drieë: Letho Hlophe (2), Abongwe Maduna, Owethu Shabalala. Doelskoppe: Shabalala (3). Strafdoel: Shabalala. Die Anker 26 (26).
Ander spanne:
o.16: Ben Vorster 33, Montana 7; Pietersburg 56, Hugenote (Springs) 14; Piet Retief 47, Die Anker 10.
o.15: Ben Vorster 46, Montana 7; Pietersburg 27, Hugenote (Springs) 0; Piet Retiet 22, Die Anker 17.
o.14: Montana 22, Ben Vorster 19; Pietersburg 19, Hugenote (Springs) 12; Piet Retief 21, Die Anker 12.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




