SuperSport Schools Plus

Volkies vonkel versus Valia

By Shane Labuschagne , in Netball | News , at 2025-05-16 Tags: , , , , , , , ,

Old School

Die Sedibeng-netballiga het vandeesweek nogmaals aksiebelaaide spel opgelewer, met Hoër Volkskool Heidelberg wat ‘n dramatiese sege behaal het oor Transvalia in een van die spannendste kragmetings van die seisoen.

Valia het volstoom afgeskop om blitsig ‘n taamlike voorsprong op te bou, maar Volkies het hope karakter in die laaste paar minute tentoongestel. Met groot vasberadenheid en puik spanwerk het hulle stelselmatig die agterstand uitgewis om uiteindelik met ‘n naelskraapse oorwinning van 30–27 uit die stryd te tree.

Met dié spogsege het Volkskool hul reputasie as een van die top-skole in die distrik en ‘n sterk aanspraakmaker op die liga-titel gestand gedoen. Transvalia kan nietemin trots wees op hulle vertoning; hulle het self karakter gewys en is beslis ‘n span wat nie ligtelik opgevat kan word nie.

Elders het Driehoek hul oorheersing bevestig met ‘n oortuigende sege van 36–17 oor Vereeniging Gimnasium. Leani Collins het op senter uitgeblink met haar flink balverspreiding en rotsvaste verdedigingswerk, en was goed ondersteun deur die dinamiese Corien Barnard, wat saam met Collins die tempo van die spel bepaal het.

Dr. Malan het Overvaal met 57–9 oorrompel in ‘n eenrigtingstryd. Overvaal sukkel steeds om hul voete te vind in die kompetisie, terwyl Dr. Malan se afrigting, struktuur en afronding duidelik op ‘n hoër vlak is.

Uitslae o.19A:

Transvalia 27, Volkskool 30
Driehoek 36, Gimnasium 17
Dr. Malan 57, Overvaal 9

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.