Valia wys karakter, twee punte genoeg vir Oosies

Vanderbijlpark is die afgelope naweek getrakteer op aanskoulike hardlooprugby in die NWU Sportreeks-kragmeting tussen Hoërskool Transvalia en Hoërskool Middelburg.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was Valia se eerste amptelike wedstryd van die seisoen, nadat hy vroeër vandeesmaand litte losgemaak het in ‘n opwarmingswedstryd teen Hoërskool Marais Viljoen. Saterdag het die span van Vanderbijl vir ‘n witwarm Middies-span met 28-21 verslaan, nadat hulle teen rustyd met net 15-13 voorgeloop het.
“Ek is baie trots op die seuns, in hul eerste wedstryd saam,” sê Valia se nuwe rugbydirekteur, Lloyd Greeff. “Ons het heelwat karakter gewys en positiewes wat ons uit die wedstryd kan neem, maar wat my meer opgewonde maak is dat ons selfs nóg kan beter doen.”
Dit het as geen verrassing gekom dat Valia se aanslag van voor gelei is deur flank, Daniel Kazambo, nie. Kazambo, wat verlede jaar reeds opslae in die SA Skolerugby-kringe gemaak het as ‘n Graad 11-leerder, was oudergewoonte uiters fisiek en haas onkeerbaar op die aanval.
Vir die Middies, het die staatmaker, Roux Grobler, voorlangs die vuur vir sy span aangesteek. Sy verdediging was iets om te aanskou, terwyl sy werkverrigting, van die bal af, van die hoogste gehalte was.
Die Middelburgers behoort vanjaar beslis ‘n span wees om mee rekening te hou in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling, indien hulle op hierdie momentum kan voortbou.
Hoërskool Oos-Moot het ‘n opdraande stryd oorkom en ‘n rustydagterstand van 8-13 uitgewis om vir Hoërskool Ben Vorster naelskraaps met 30-28 te klop. Die Oosies het nieteenstaande ‘n paar tam lywe, ná Woensdag se reusestryd teen Hoërskool Waterkloof, die Buffels fisiek aangevat voorlangs, wat uiteraard ‘n titaniese stryd afgegee het.
Die tweestryd tussen die skrumskakels was nóg ‘n hoogtepunt, met David Joubert, die Oosies se beste speler Woensdag, wat weer sy afrondingsvernuf uitgestal het. Stiaan du Rand het vir die Buffels uitgeblink het met sy breekslae om die afbreekpunte, en vanuit sy eie halfgebied deurgebreek vir een van sy span se drie drieë.
Puntemakers:
Transvalia 28 (15) – Drieë: Wihandré Kruger, Daniel Kazambo, Johandré van der Merwe. Doelskoppe: Jayden van Eden, Jaydee Maree. Strafdoele: Van Eeden (2), Maree. Hoërskool Middelburg 21 (13)– Drieë: Beast Ngadima, Jabu Mathebula. Doelskop: Buhle Mphalaza. Strafdoele: Mphalaza (3).
Oos-Moot 30 (8) – Drieë: Clayton du Bruyn, David Joubert, Stian de Vente, Owen Basson. Doelskoppe: David Joubert (2). Strafdoele: Joubert (2). Ben Vorster 28 (13) – Drieë: Kobus de Beer, Stiaan du Rand, Ruben Pohl. Doelskoppe: Shelton Primo (2). Strafdoele: Primo (3).
Ander spanne:
o.16: Hoërskool Middelburg 18, Transvalia 13; Oos-Moot 27, Ben Vorster 26.
o.15: Transvalia 41, Hoërskool Middelburg 7; Oos-Moot 16, Ben Vorster 12.
o.14: Hoërskool Middelburg 41, Transvalia 5; Ben Vorster 28, Oos-Moot 5.