SuperSport Schools Plus

Valia deur na Gauteng met naelbytsege oor Dokkies

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-06-10 Tags: , , ,

Carla van Schalkwyk mik vir ‘n doel teen Dr.Malan, met Christephie Strydom wat probeer keer.

Transvalia se eerste span het Saterdag hul plek as naaswenners van die Sedibeng-liga verseker met ’n klipharde en spannende sege van 18–17 oor Dr. Malan.

Dié uitspeelwedstryd moes bepaal wie met Heidelberg Volkskool deurdring na die Gauteng-kampioenskap, en die atmosfeer het behoorlik gekook met afwagting.

Dit het van meet af aan ‘n nek-aan-nek-stryd afgegee, met nie een van die twee spanne wat noemenswaardige momentum kon opbou gedurende die eerste drie kwarte nie en elke doel wat swaarverdiend was. In die laaste kwart het Transvalia egter daarin geslaag om ‘n kortstondige greep op die kragmeting te verkry met ’n indrukwekkende aanvalsreeks van vier opeenvolgende doele, wat aan hulle ‘n waardevolle voorsprong besorg het.

Dokkies het geweier om handdoek in te gooi en doelgerig teruggeveg om die agterstand stelselmatig te laat krimp, wat gesorg het vir die naelbyteinde. Valia het egter koelkop gebly om die oorwinning met ‘n enkele doel te beklink.

Transvalia gaan dus met Heidelberg Volkskool, wat reeds as ligawenners gekroon is, vir die Sedibeng-distrik verteenwoordig by die komende Gauteng-kampioenskap. Dit sal uiters interessant wees om te sien hoe dié twee spanne opweeg teen die beste in die provinsie.

Uitslag:

Transvalia 18, Dr.Malan 17

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.