Vakante titel op die spel by 30ste Mauritz Hansen-week
Daar sal vanjaar ‘n nuwe kampioen by die 30ste Mauritz Hansen Rugbyweek gekroon word.
Die toernooi, wat sedert 1993 in Naboomspruit, by Hoërskool Hans Strijdom, aangebied word, vind van 21 tot 25 Maart plaas.
Die week is deur menere Mauritz Hansen en Lofty Koorzen op die been gebring, en in 2001 is dit amptelik as die Mauritz Hansen Rugbyweek gedoop.
Vandaar het die toernooi van krag tog tot krag gegaan, met 82 spanne wat in 2008 aan die gesogte toernooi deelgeneem het.
Hoërskool Ellisras is in 2023 as kampioen van die week gekroon, danksy ‘n sege van 18-7, en ‘n uitmuntende vertoning deur Speler van die Week, Ewald Kirstein, teen aartsvyande, Hoërskool Frikkie Meyer, van Thabazimbi.
Daar sal egter vanjaar nie net ‘n nuwe kampioen gekroon word nie, maar ook ‘n nuwe naaswenner wees, met sowel die Rassies as Frikkies wat nie vanjaar in Naboonspruit in aksie is nie.
Dit laat die deur oop vir spanne soos die gashere, Hans Strijdom, Northcliff High School, Hoërskool Hugenote (Springs), Ligbron Akademie en Hoërskool Witteberg om sake vir die titel uit te spook.
Die aksie word Donderdagoggend om 09.30 afgeskop deur Hoërskool Kalahari en Ferrum High School, met die gashere wat om 18:20, in die hoofwedstryd van dag een, met Northcliff High School, van Randburg, kragte meet.
Hugenote sal in hul eerste wedstryd verby Hoërskool Linden moet kom, terwyl Witteberg en Ligbron mekaar om 13:30 in ‘n liplekker-kragmeting die stryd aansê. Hoërskool Belville en Hoërskool Piet Retief pak mekaar in die voorwedstryd van dag een, om 15:30.
As ekstra beloning vir die spelers wat deur die loop van die drie dae puik vertoon, sal ‘n Span van die Week soos gebruiklik, na afloop van die eindstryd, aangekondig word.
Bepalings: Dag 1 (21/03/2024):
09:30 – Kalahari t. Ferrum
10:30 – Frans du Toit t. Die Anker II
11:30 – Hugenote (Springs) t. Linden;
12:30 – Fochville t. Pretoria-Noord
13:30 – Witteberg t. Ligbron
14:30 – Brits t. Empangeni
15:30 – Bellville t. Piet Retief
18:20 – Hans Strijdom t. Northcliff