SuperSport Schools News

Uppies bewys hulle hoort in Oranje

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-03-04

NewsGHSUpingtonSpanDie Hoërskool Upington se eersterugbyspan het nou wel voor sy kragmeting teen Jim Fouché op Fichardtpark se jaarlikse McDonalds Sportdag besluit om nie in sy tradisionele Oranje-truie te speel nie.

Die spelers het besluit hulle moet eers verdien om die trui oor die kop te trek. Daar bestaan egter geen twyfel na die span se sege van 19-10 oor JF dat die span in sy volgende wedstryd in sy tradisionele gewaad sal wees nie.

Daar was teen lemoentyd niks tussen die twee spanne te kies met die telling op 5-elk nie.

Niemand was beter as Uppies se kaptein en binnesenter, Henro Kotze, nie. Hy het al drie sy span se drieë afgerond. Die samespel van hom en Harry Nell in die middelveld het JF probleme besorg.

Uppies se skrum het ook die oorhand gehad, terwyl sy agtsteman, Johan Teessen, en die flank Venter Scholtz geen losbal laat rondlê het nie. 

Albei Jim Fouché se drieë is deur Rubyn Dupont gedruk. Buiten Dupont se uithalerspel, was die slot Braam le Roux se kraglopies ook vir sy span goud werd. Agterlangs het die skrumskakel, Delano Williams, nooit moed opgegee nie. 

Riebeeckstad het dalk verlede jaar die eerste keer in sy geskiedenis ‘n trofee verower, maar dis duidelik dat dit al was wat die span nodig gehad het. 

Riebies het sy seisoen Saterdag in die Rosestad met ‘n klinkende sege van 53-3 oor President Steyn afgeskop. Die wenspan het rustyd reeds ‘n voorsprong van 19-3 opgebou. 

Voorlangs was Jeremia Mofekeng (flank) en Nathan Fourie (agtsteman) ysters vir die wenspan, terwyl Johan Strydom (skrumskakel), Teboho Makwayi (senter) en Gomi Leshoro agterlangs te veel vrae aan die Steyners se verdediging gevra het. 

Landboudal van Jacobsdal was met 25-12 oor St Andrews van Bloemfontein baas. Saints se vaskopstut, Kabelo Leie, kan sy kop omhoog na sy vertoning hou. Lanties se loskopstut, Johan Snyman, was sonder twyfel sy span se beste speler op die dag.

De Aar het ook sy spiere gebult deur die Hoërskool Bloemfontein met 50-0 kaf te draf. Die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort het vir HTS Welkom met 33-21 die loef afgesteek. Aliwal-Noord was met 14-8 oor Sand du Plessis baas.

Puntemakers: 

Hoërskool Upington 19 (5) – Drieë: Henro Kotze (3). Doelskoppe: Wilco Visagie, Hardie Koegelenberg. Jim Fouché 10 (5) – Drieë: Ryben Dupont (2). 

Riebeeckstad 53 (19) – Drieë: Gomi Leshoro (2), Keagan Human, Fenni Thlakanelo, Jabulani Mcluwani, Jeremia Mofokeng, Jabulani Makati, Raymond Mabena, Kami Lepheila. Doelskoppe: Human (2), Leshoro (2). President Steyn 3 (3) – Strafdoel: Brendan Fourie. 

Landboudal 25 – Drieë: Danie de Waal, Henco Burger, Pierre Malan. Doelskoppe: Burger (2). Strafdoele: Burger (2). St Andrew 12 – Drieë: Jason Visagie, Ethan Travers. Doelskop: Nantus Aucamp. 

De Aar 50 (36) – Drieë: Litha Bangani (2), Nasiphi Yekani (2), Stefan du Plessis, Mouritz Erasmus, Rowan Greeff, Duane Jonker. Doelskoppe: Duane Jonker (5). Hoërskool Bloemfontein 0

Brandfort 33 – Drieë: Gustav Pansegrouw (2), DS de Wet, Stefan Weideman, Johan Muller. Doelskoppe: Jacques Jerling (4). HTS Welkom 21.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.