Trekkers nou die gunsteling in die Noord-Vrystaat
DIE rugbyspan van Hoërskool Voortrekker van Bethlehem het Saterdag op Virginia vir Hentie Cilliers met 23-14 verslaan.
Die Trekkers is na die sege soos die vorige twee jaar nou die vroeë gunsteling om die kroon as kampioen te dra.
Die span van 2014 het hopelik uit sy voorgangers se foute geleer. Die senter Boeta Vermaak, agtsteman Junior Oosthuizen en flank Clinton Moloi het uitstaande spel in die sege gelewer.
Vir die verloorspan het sy stut Neo Mohapi en flank Damain May meters ver veld met hulle kraglopies gewen. Agterlangs was die skrumskakel, Jaywinn Juries soos altyd ’n staatmaker.
Welkom-Gimnasium het danksy twee blitsige drieë deur sy Cravenweek-vleuel, Nazo Nkala in die tweede helfte die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in Kroonstad met 23-17 in Kroonstad die loef afgesteek.
Rooiskool het met die omdraaislag ’n voorsprong van 17-6 geniet. Die span kon egter nie op sy vertoning in die eerste helfte voortbou nie.
Gimmies se kantman, Zander Wasserman het sy span se fisieke aanslag gelei. Hy het teen die veel groter spelers van Rooiskool sy man gestaan. Sy flankmaat, Byron Ferreira het in die los gewoel, terwyl die losskakel JL Carry-Smith se skopskoen vir sy span goud werd was.
Die vaskopstut, Lincoln Jordaan het in die skrums beindruk en ook by die afbreekpunte sy gesag afgedwing.
Vir Rooiskool het was sy senter, Kobus Kleyn agterlangs uitstaande. Voorlangs het die slot Erik Knoetze, flank Henry Searle en ander slot Ettienne O’Donovan meer as hulle deel gedoen.
Hoërskool Kroonstad het amper daarin geslaag om sy eerste sege van die liga te behaal, maar HTS Welkom se heelagter Connie Abrahams het ander planne gehad.
Abrahams het in die doodsnikke van die kragmeting ’n skepdoel tussen die pale gejaag om aan die Tekkies ’n naelskraapse sege van 11-10 te besorg.
Goudveld-Hoërskool se senter Gregan Hull het twee keer gaan druk in sy sege van 25-17 oor Witteberg van Bethlehem. Witteberg het met die omdraaislag nes Rooiskool ’n stewige voorsprong van 17-5 gehad.
Die span van Bethlehem kon ook nie daarop voortbou nie. Vir die verloorspan verdien sy flank Aristeo Desiderio, senter Gerhard van Huysteen, vleuel Darryl Wilson en haker Stephan Jordaan elk ’n klop op die skouer vir hulle vertonings.
Puntemakers:
Voortrekker 23 – Drieë: Junior Oosthuizen, Toffie van Zyl, Lethole Mokoena. Doelskop: Tokkie van Zyl. Strafdoele: Tokkie van Zyl (2). Hentie Cilliers 14 – Drieë: Neo Mohapi, Jaywinn Juries. Doelskoppe: Juries (2).
Welkom-Gimnasium 23 (6) – Drieë: Nazo Nkala (2), JL Carry-Smith (2). Strafdoele: Carry-Smith (3). AHS Kroonstad 17 (17) – Drieë: Duncan Horak, Burnett Staal. Doelskoppe: Ruben Aucamp (2). Strafdoel: Aucamp.
Goudveld-Hoërskool 25 (5) – Drieë: Gregan Hull (2), Schalk Vosser, Jaco Conradie. Doelskop: Shakile Adams. Strafdoel: Adams. Witteberg 17 (17) – Drieë: Wiaan Pittendrich, Aristeo Desiderio, Gerhard van Huysteen. Doelskop: Louis Spershott.
HTS Welkom 11 – Drie: Thato Rakoata. Strafdoel: Connie Abrahams. Skepdoel: Abrahams. Hoërskool Kroonstad 10 – Drie: Jan-Louis du Plessis. Doelskop: Reinhard Kleynhans. Strafdoel: Kleynhans.