Topskole slaggereed vir DStv Schools Challenge
Die SASN DStv Schools Challenge 2025 skop Vrydag 25 Julie af by Hoërskool Dr. EG Jansen en bring van Suid-Afrika se sterkste netbalskole saam op een platform.
Met die eerste dag wat uitsluitlik aan rondomtalie-wedstryde gewy word, is daar heelwat op die spel vir skole soos die Afrikaanse Hoër Meisieskool (Affies), Menlopark, Paarl Girls’ High, Meisieskool Oranje, Rand Park, La Rochelle, Sentraal en Noordheuwel. Hierdie topspanne sal alles in die stryd werp om ‘n plek in Saterdag se uitspeelrondes te verseker.
Een van die vroeë hoogtepunte van die toernooi is die ontmoeting tussen Paarl Girls’ High en Meisieskool Oranje, wat reeds Vrydagoggend om 08:45 in aanvang neem. Hierdie twee tradisionele netbalreuse bring sowel spoed as tegniese vernuf na die baan en ondersteuners kan uitsien na ‘n wedstryd wat tot die laaste sekonde fyn gebalanseerd sal wees.
Later die dag, om 14:45, betree Oranje weer die baan teen Rand Park, voordat Paarl Girls en Rand Park mekaar om 16:15 takel in ’n wedloop om punte wat moontlik die groep se einduitslae kan bepaal.
In Groep F, met ’n sterk Wes-Kaapse teenwoordigheid, kom La Rochelle om 08:45 teen Noordheuwel van Gauteng te staan in kragmeting waar rotsvaste verdediging aan die orde van die dag behoort te wees. Om 10:15 wag nóg ‘n uitdaging op La Rochelle teen Sentraal van die Vrystaat, ‘n wedstryd waar strategie deurslaggewend kan wees.
Om 09:30 val die kollig op Affies wat vir Pearson van die Oos-Kaap die stryd aansê. Hierdie kragmeting tussen twee spanne wat albei dinamies is op die aanval, kan straks die tempo van Groep B bepaal. Kort daarna, om 11:45, pak Menlopark vir Duineveld in ‘n kragmeting wat bepalend kan wees vir die Pretoriaanse span se hoop om ’n plek in die uitspeelrondes te bespreek.
Die kompetisie is straf en elke punt tel, met die eerste dag se uitslae wat bepaal watter spanne die volgende dag aan die uitspeelrondes deelneem.
Saterdag 26 Julie skop af met die Ubuntu-uitspele regdeur die oggend, met die eindstryd van die Ubuntu-afdeling om 13:00, gevolg deur die Botho-eindstryde om 13:45. Hier sal die room van die oes oplaas sake uitspook om die titel.
Met die gehalte van talent wat tot dusver vanjaar tentoongestel is, beloof die 2025-uitgawe van die SASN DStv Schools Challenge om een van die opwindendste en mededingendste in die toernooi se geskiedenis te wees.